Sy sê sy is nie “skaam” daaroor dat sy om hulp aangeklop het sodat sy aan die lewe in die kollig kon gewoond raak nie. “Ek het terapie probeer,” het sy aan die tydskrif Attitude gesê, “ek het, en ek is nie skaam om daaroor te praat nie.”

Sy sê sy hoop haar openhartigheid hieroor sal dit vir haar aanhangers makliker maak om hul probleme by die horings te pak. “Ek wil hê my aanhangers en almal moet praat oor dié goed. Sodra jy oop kaarte daaroor gespeel het, kan ons almal mekaar ondersteun en ophou maak asof ons skaam moet wees.”

Lady Gaga, wat uitgaan met Taylor Kinney, het ook onlangs gesels oor die moontlikheid van kinders. “Ek wil baie kinders hê. Ek dink ten minste drie. Ek wil baie graag ’n gesin hê en ek wil my kinders koester.

“Ek dink om my eie kinders te hê sal wees soos om heeltyd drie klein monstertjies by my te hê.” Maar sy vermoed hulle gaan nie juis gek oor haar musiek wees nie.