camilamaintwee

Die sangeres, wat die Amerikaanse meisiegroep in Desember verlaat het, betree Vrydag 3 Maart haar 20’s en het gesê daar is net een geskenk waarmee sy graag haar nuwe lewensdekade tegemoet wil gaan.

“Ek wil vir my 20ste verjaardag net graag hê my borste moet ’n bietjie groter wees; net ’n raps,” het sy Maandag aan aanhangers op Twitter gesê. Dit het ’n spul antwoorde ontlok van bewonderaars wat sê sy is nommerpas nes sy is.

Dis ’n vreemde twiet aangesien Camila voorheen gesê het sy het as lid van Fifth Harmony gevoel sy moes te sensueel wees.

Die jong sangeres het tydens ’n onlangse verskyning op Lena Dunham se potgooi erken sy kon nooit gewoond raak aan die idee dat sy ’n seksuele voorwerp in die groep was nie.

“Dikwels het mense ons probeer seksualiseer net om meer aandag te ontlok,” het sy laat hoor. “Ongelukkig verkoop seks. Daar was beslis tye dat dinge gedoen is waarmee ek nie gemaklik was nie en ek my voet moes neersit.

“Dit was moeilik, want ons moes voor die hele wêreld grootword terwyl ons liedjies uitgevoer het wat baie seksuele ondertone bevat het."

Maar bygevoeg: “Daar skort niks daarmee om sensueel te wees nie. As dit in jou geaardheid is, is dit net ’n uitdrukking van wie jy is.”

Cover Media