Dis maar alte bekend, skuldgevoelens wat op die krop van jou maag kom sit en net nie wil weggaan nie. Of jy nou jou baba bedags by die speelskool moet gaan los of ’n skoolkonsert misgeloop het, dit kan aan jou vreet.

En dink maar terug aan daardie keer toe jy midde-in jou dieet ’n sny koek bestel het of op die nippertjie ’n afspraak met vriende moes aflas omdat jy net te moeg was . . .

Wanneer skuldgevoelens beheer oor jou lewe kry, kan dit lei tot spanning wat mettertyd jou hele lewe kan versuur. Maar daar is goeie nuus. As jy die negatiewe emosies wat met die skuldgevoelens gepaardgaan, reg inspan, kan dit ’n goeie verskil aan jou lewe maak, sê kenners.

“Skuldgevoelens kan jou aanspoor tot optrede,” sê Ilze Alberts, ’n sielkundige van Johannesburg. “As jy byvoorbeeld skuldig voel omdat jy te min gehaltetyd saam met jou man deurbring, kan dit jou motiveer om ’n voordelige verandering aan te bring en een keer per week ’n afspraakaand te hê.”

Maar wees versigtig dat skuldgevoelens jou nie verlam nie. “Dit kan lei tot terneergedruktheid en wrewel. Dink maar aan ’n ma wat skuldig voel omdat sy te veel werk en nie genoeg saam met haar kinders speel nie. Sy word dan wrokkig teenoor haar werk.”

Dis belangrik dat jy jou skuldgevoelens verwerk, sê Yolandi Benadè, ’n lewensafrigter van Johannesburg. Raak ontslae daarvan deur te erken wanneer jy iets verkeerds gedoen het, die mens wat jy te na gekom het verskoning te vra en jouself te vergewe, is haar raad.

Maar wanneer jou skuldgevoelens te doen het met ingewikkelder probleme wat veel wyer strek as ’n koffieafspraak wat jy gekanselleer het, moet jy uitvind presies wat pla en iets daaraan doen.

Só omskep jy jou skuldgevoel in iets goed

Begin deur eers vas te stel deur watter soort skuldgevoel jy geteister word. Daar is in wese twee soorte: dit wat jy verdien, en dit wat nie voor jou deur gelê kan word nie, sê Yolandi.

Skuldgevoelens wat jy verdien

As jy iets op ’n morele of etiese vlak verkeerd gedoen het, gebruik dit as ’n kans om ’n goeie verandering aan te bring. “Dan kan skuldgevoelens wonderlik wees,” sê Barbara Johnson, ’n kenner in leierskapsontwikkeling van Hillcrest in KwaZulu-Natal. “Dit kan jou help om die situasie te beredder, vergifnis te vra en die lewe vorentoe anders aan te pak.”

As jy byvoorbeeld daaroor skuldig voel dat jy oor ’n vriendin geskinder het, kan jy van die negatiewe gevoelens ontslae raak deur haar verskoning te vra. Of gaan terug na die mens aan wie jy die skinderstorie vertel het, en draai dit nek om.

Vergewe jouself, maar neem jou voor jy sal dit nie weer doen nie. Dan het jou skuldgevoelens jou ten goede verander.

Leer daaruit, is Yolandi se raad. “Vra jou af: Hoe kon ek anders opgetree het? As jy weer in die versoeking kom, sal jy makliker reg optree.”

Onverdiende skuldgevoelens

Dié soort skuldgevoel is ingewikkelder omdat jou lewenservaring en persoonlikheidstrekke bepaal in hoe ’n mate, hoe dikwels en waaroor jy alles skuldig voel. Net omdat jy skuldig voel, beteken dit nie jy het iets gedoen (of nie gedoen) waarmee jy dit verdien het nie.

“Dis belangrik dat jy albei kante van die munt raaksien,” sê Ilze. “Elke situasie hou voordele sowel as nadele in. As jy die goeie kant kan raaksien, sal jou skuldgevoelens minder word. Dis ’n waardevolle lewensvaardigheid wat ’n mens kan aanleer.”

Maar hoe kry jy dit reg om die goeie raak te sien in dit wat jy as sleg beskou? Ons kenners gee voorbeelde en deel hul wenke sodat jy ook die geluk by die ongeluk kan raaksien.

  • Werk meng in met jou gesinstyd. Dit kan maklik gebeur en raak ál meer mense wanneer een broodwinner nie al die uitgawes kan bybring nie. Maar harde werk het ’n pluskant. As jy alles insit, wag daar dalk ’n bevordering. Daarby help die ekstra geld wat jy inbring jou gesin in ’n mooi huis woon, dit betaal dalk vir omvattende mediese dekking en jou kinders kan ’n goeie skool bywoon. As jy dit alles in ag neem en nog altyd skuldig voel, vra jou af of die ekstra werkure die moeite werd is, sê Barbara. Bespreek dit met jou gesin. Hulle verkies dalk dat jy ’n nuwe werk kry waarin jy minder verdien, maar meer by die huis is. Jy kan ook jou werkure met jou base bespreek; vra jy wil buigsamer ure werk. Dis nie meer ongewoon nie.
  • Jy kanselleer ’n afspraak met jou ma. Jy het belowe jy sal oor die naweek kom kuier, maar tussen jou man en die kinders het die tyd verbygevlieg voor jy by die aftreeoord kon uitkom. Nou voel jy sleg. “Vra jou af of jou reëling met jou ma prakties is,” sê Ilze. “Indien nie, praat met haar en tref ’n nuwe reëling.” Dalk pas dit beter in jou rooster as jy jou besoeke skuif na ’n middag wanneer die kinders by die skool met sport besig is of ’n dag wanneer jy vroeër ophou werk. Dieselfde geld vir jou vriendinne. Werk dwing jou dalk om ’n middagete-afspraak wat lankal gereël is, op kort kennisgewing uit te stel. “ ’n Mens kies wat vir jou die belangrikste is, en jy moenie daaroor sleg voel nie,” sê Ilze. “Sê vir haar jy is te besig in die week en maak dan ’n afspraak vir ’n meer geleë tyd.”
  • Jy kies jou werk bo jou sosiale lewe. Dis deesdae ’n gewilde gewoonte om laataand en naweke jou werk-e-posse te beantwoord. Maar voel jy skuldig elke keer dat jy in geselskap na jou foon loer? Dis oukei dat ’n mens soms net afskakel, sê Ilze. “So kan jy gehaltetyd saam met jou vriende en familie deurbring en sterker verhoudings bou.” As jy die volgende dag terug is by die werk, voel jy geïnspireer en gemotiveer en kan jy harder werk. Sy glo dit maak jou ’n beter werker. “As tyd saam met familie en vriende vir jou belangrik is, maar jy selde kans kry vir kuier, gaan jy jou werk begin verpes.” Stel nogtans grense, sê sy. “Besluit om byvoorbeeld nie ná nege saans e-pos te lees nie of maak Sondae ’n gesinsdag en skakel heeltemal van die werk af.”
  • Jy oefen nie so gereeld soos jou vriende nie. As jou Nuwejaarsvoorneme om elke dag saam met jou pelle te gaan draf reeds by die venster uit is, vra jou af: Was dit ’n haalbare plan? Is fiksheid vir jou so belangrik dat jy elke dag tyd daaraan moet afstaan, of is drie keer per week ook in die haak? “Skuldgevoelens ontstaan weens onmoontlike verwagtings wat jy aan jouself stel, want jy vergelyk jou met iemand anders,” sê Ilze. Dalk is draf boonop nie die regte oefening vir jou nie. Probeer liewer iets anders soos hoëintensiteit-oefeninge wat minder tyd verg, maar ook voordelig kan wees.
  • Jy volg ’n dieet, maar het ’n stuk koek geëet. Dat jy saam met ’n kollega haar verjaardag gevier het met ’n snytjie koek by die werk, is nie iets waaroor jy jou behoort te verknies nie, sê Barbara. “As jy tot dusver getrou was aan jou dieet en jy jou maande laas bederf het, moenie skuldig voel daaroor nie. Jy moet realisties wees oor die lewe.” As die skuldgevoelens by jou bly spook, verged daarvoor. Gaan ná werk gim toe en woon ’n ekstra oefenklas by. Of pas jou eetplan vir die res van die dag aan sodat jy vergoed vir die koek, sê Ilze.

- Petro-Ann Vlok

Ekstra bronne: rd.com, unisa.co.za