As jy jou kinders van kleins af met huishoudelike take laat help, leer dit hulle nie net om onafhanklik te wees nie; dit ontwikkel ook hul motoriese vaardighede en koördinasie, sê Hawa Tayob, direkteur van die ELF Montessori- opleidingsentrum in Kaapstad.

Ouers onderskat dikwels kinders se vermoë om self dinge te doen. Huistake vir kinders is om verskeie redes belangrik:

-        Dit stimuleer kinders se fisieke ontwikkeling. As jy hulle van kleins af hul speelgoed laat wegpak of die tafel laat dek, ontwikkel hul spiere en oog-hand-koördinasie, sê Hawa.

-        Dit help jou kind onafhanklik wees. “Hulle leer die waarde van goed self doen en leer boonop verantwoordelikheid aan,” sê Hawa. “As jy hom leer dat hy sy vuil eetgerei kombuis toe moet neem, maak jy hom bedagsamer, want hy besef dan iemand anders sal dit moet doen as hy dit nie self doen nie.”

-        Huistake soos tafel dek verbreed kinders se algemene kennis en leer hulle belangrike lewensvaardighede, meen Lana Kleingeld, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

-        As ouers en kinders saam huistake aanpak, moedig dit kommunikasie aan en is goed vir hul verhouding, sê Lana.

Hoe motiveer ek my kind?

Die grootste uitdaging is om kinders sover te kry om take in die huis te aanvaar. Hawa sê ouers moet hul huis prakties inrig sodat kinders makliker take kan afhandel.

-        Bêre kinders se speelgoed op lae rakke of in bokse op die vloer, waar hulle dit maklik kan uithaal en wegpak.

-        Hou draagbare trappies byderhand in die huis sodat kinders by toonbanke en ander oppervlakke kan bykom.

-        Skep ’n roetine, sê Lana. ’n Kind sal meer geneig wees om iets te doen as dit op ’n vaste tyd volgens ’n roetine gedoen word. Dit leer hulle ook hul tyd bestuur. Verdeel take tussen jou kinders, en sê byvoorbeeld die vullissakke moet Maandae uitgesit word of die hond moet smiddae om vyfuur kos kry.

-        Belê in plastiek-eetgerei sodat kinders van kleins af kan tafel dek en self kan eet sonder om seer te kry.

-        As jou kind traag is om take te voltooi, stel Hawa voor jy moet hulle meer tyd daarvoor gee. “Sê byvoorbeeld haar kamer moet teen aandete netjies wees en wys haar op die horlosie hoeveel tyd nog oor is.”

-        Weerhou voordele tot hul take afgehandel is, stel Lana voor. “Klein kinders mag byvoorbeeld nie hul gunsteling-TV-program kyk voor hul take klaar is nie. Met ouer kinders kan jy hul sakgeld of selfoon wegneem.”