Ons weet almal hoe vinnig kieme versprei wanneer een lid van die gesin eers ’n loopneus kry; dis ’n bose kringloop. “Griep is ’n virus wat almal raak, ongeag ouderdom of gesondheid,” sê dr. Romy Vietri, ’n algemene praktisyn van Kaapstad. Sy vertel ons alles wat jy moet weet oor die griepinspuiting.

Hoe werk dit?

“Die entstof is ’n ongeaktiveerde vorm van die griepvirus, wat beteken die virus is dood wanneer jy daarmee ingespuit word,” verduidelik sy.

“Elke jaar voorspel navorsers watter stam van die griepvirus sal sirkuleer en stel ’n ander entstof saam. Gewoonlik probeer hulle drie tot vier stamme van griep bestry.”

Party mense kla hulle hou nie van die entstof nie, want dit maak hulle siek. “Dis nie die geval nie,” sê sy. “Die entstof sal beslis nie griep veroorsaak nie, al ervaar jy dalk griepsimptome in die twee weke nadat jy die entstof gekry het.

“Dit gebeur wanneer jou liggaam teenliggaampies vervaardig om hom teen ’n moontlike virusinfeksie te beskerm, maar die simptome is nie aansteeklik nie.”

Is dit nodig?

“Ja, beslis,” sê Romy. “Die virus kan enigiemand aantas, en al is dit seldsaam, sterf mense elke jaar weens griep. Daar is ook ander griepverwante komplikasies wat vermy word as jy die entstof kry, soos oorontsteking, of om in die hospitaal opgeneem te word wanneer die griep baie ernstig is.”

Kan swanger vroue die inspuiting kry? En kan my baba ingeënt word?

“Ja. Trouens, die entstof teen griep is veral voordelig vir mense wat ’n hoë risiko het. Dit is enigiemand wat ’n swak of onderdrukte immuunstelsel het, soos bejaardes, swanger vroue, jong kinders, mense met chroniese toestande, soos emfiseem, en diegene met tuberkulose asook MIV-lyers. Babas kan ná die ouderdom van ses maande ingeënt word.”

Moet ek dit elke jaar kry?

“Ja. Moenie dink omdat jy verlede jaar ingeënt is dat jy vanjaar piekfyn sal wees nie,” sê Romy. “Die virus is slinks; dit vermenigvuldig en vernuwe sodat hy mense kan herbesmet. Dis waarom ons elke jaar ’n ander entstof saamstel.”

Kan ek steeds griep kry nadat ek ingeënt is?

“Ja, jy kan die virus opdoen in die twee weke nadat jy ingeënt is bloot omdat jou liggaam nog teenliggaampies vervaardig. Jy kan ook ’n ander stam opdoen, maar dit gebeur selde, want die drie tot vier wat die entstof bevat, dek gewoonlik die algemeenste verskeidenheid griepvirusse wat die ronde doen.”

Wat anders kan ek doen om my en my gesin teen griep te beskerm?

“Begin met goeie higiëne. Was jou hande gereeld met seep en warm water, veral voor jy eet. Ek was my hande waarskynlik sowat 30 keer per dag,” sê Romy.

Sy beveel ook aan jy bly in die algemeen gesond: “Eet gesond, drink genoeg vloeistowwe, slaap genoeg en kry oefening. Dit alles bou jou immuunstelsel op.”

As iemand in jou gesin siek raak, voorkom ’n kringloop van besmetting. “Maak seker almal was gereeld hul hande, ook die siek mens, veral nadat hulle gehoes of genies het.

“Hou handontsmettingsmiddel of ontsmettende lappies deur die huis, en as dit ma of pa is wat siek is, hou ’n waterlose handreiniger op die bedkassie.”

Waar kan ek dit kry?

Die meeste apteke en algemene praktisyns bied die inspuiting; vra dus jou dokter. Kry joune by MediRite-apteke teen R55,99 per inspuiting. Vir nog inligting, gaan na www.medirite.co.za.

- Dalena Theron