Volgens berigte was ’n egpaar en drie tieners aan boord.
Drie van die insittendes is opslag dood terwyl die twee oorlewendes in ’n hospitaal vir hul beserings behandel word.
Die vyftal was glo in die Riverside-omgewing vir ’n rasieleier-kompetisie by Disneyland. Hulle sou van Riverside, sowat 87 km suidoos van Los Angeles, na San Jose teruggevlieg het. Michael Moore, Riverside se brandweerhoof, sê een van die insittendes is ’n tienermeisie wat met die trefslag uit die vliegtuig geslinger is toe dit in twee breek. Sy het geringe beserings opgedoen en kon die brandweer vertel wat gebeur het. Twee ooggetuies het gesê dat hulle ’n vrou met brandende klere uit een van die huise sien kruip het. Hulle vermoed sy was die vlieënier.

Die owerheid moet nog bevestig of die vyftal almal lede van dieselfde gesin is, maar die vrou het ná die botsing glo aanhoudend na haar dogter geroep terwyl omstanders haar gehelp het om weg van die wrak af te kom.

 

Bella Aguelar, wat in die buurt woon waar die vliegtuig neergestort het, sê benewens die vrou, het sy gesien hoe nog iemand uit die wrak gehaal word. “Hulle het nog geleef, maar het gebrand.”

Shannon Flores, ’n onderwyseres, het die vliegtuig deur haar klaskamervenster gesien.

“Toe ons dit sien verbyvlieg, het ons geweet hier kom moeilikheid,” het sy aan KABC-TV vertel. Kort daarna was daar glo ’n harde slag en groot rookwalms te sien.

Dave Swinfard, wie se huis in die slag gebly het, het omstreeks 20 voor vyf die middag op sy rusbank sit en TV kyk. Hy was alleen tuis met sy katte as geselskap en het glad nie die naderende vliegtuig gehoor nie.

“Ek het net hierdie massiewe slag gehoor en die voorkant van my huis het in duie gestort. Ek het vlamme gesien en oombliklik besef ek moet so gou moontlik uitkom,” het hy gesê. Die vliegtuig het sy huis getref sowat 4,5 m van waar hy gesit het.

Weens die vlamme kon hy nie deur die voordeur ontsnap nie; gelukkig kon hy by die agterdeur uitkom. Maar hy twyfel of sy katte die brand oorleef het.

Van Dave se woonplek – sy grootwordhuis – het feitlik niks oorgebly nie. Al sy besittings het ook in die slag gebly.

 

Bronne: klta.com, q13fox.com, losangeles.cbslocal.com, pe.com