SY IS plankdun. Selfs onder haar denimbaadjie lyk haar boarms amper breekbaar. Haar bobene maak skaars ’n duikie in die stoel waarop sy sit.

Maar Amalia Uys, wat elke weekaand as San-Mari van Graan in 7de Laan in ons televisiekamers kuier, lag net oor stories dat sy aan ’n eetversteuring ly. Nee wat, sy het eintlik gewig opgetel, sê die 25-jarige aktrise.

‘‘Ek ly nie aan ’n eetversteuring nie en ek het nog nooit. Ek weet ek was so twee jaar gelede baie maer, maar ek werk hard daaraan om gewig aan te sit. Ek het ’n goeie verhouding met my lyf en met kos.’’

Sy praat sonder omhaal oor gewig- en hartsake, cappuccino in die hand. ‘‘Dit is eintlik net onkunde as iemand dink ek het ’n eetversteuring. Jy kan sien as iemand anoreksie het. Hul oë blink nie. Hul naels is gebreek en hul vel lyk nie goed nie. Kyk, my naels is gesond,’’ sê sy en hou haar elegante hande uit dat ons kan sien.

Haar vleklose vel spreek vanself. ‘‘Dit is vir my belangrik om gesond te wees. Dit is hoekom ek al op universiteit ophou rook het. Ek probeer nou ’n dieet volg wat vir my bloedgroep voorgeskryf word, A positief. Dit beteken ek bly weg van rooivleis en eet witvleis en baie groente en vrugte. Ek kan sommer voel dit werk vir my,’’ vertel sy.

Sy is nie fanaties oor oefening nie en besit nog dieselfde stel tekkies wat sy op skool gedra het, maar sy het nou ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur wat haar so twee keer per week in die gim laat sweet. En sy het weer begin ballet neem – iets wat sy op skool laas gedoen het.

‘‘Ek hou van dans en natuurlike oefening. Ek het nou die dag ’n buitelugroete van 5 km by die Hennopsrivier gehardloop,’' vertel sy geesdriftig.

En met die liefde? Sy en Hendrik Cronjé, oftewel Lukas wat ook in die Laan se sportwinkel werk, is mos al geruime tyd meer as goeie vriende, al is dit so aan en af.

‘‘Ons is op goeie voet met mekaar,’’ is al wat sy wil verklap. En sy voeg erg kripties by: Mense moet maar wonder of hulle saam is as hulle die twee van hulle saam sien . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 15 Julie 2010.