Die Meas-huishouding hier in Roodepoort is besonder bedrywig vandag. In die TV-kamer wat sommer ook die studeerkamer is, sit Connor (13) die ene konsentrasie voor die rekenaar op soek na inligting vir ’n skoolprojek, terwyl Campbell (16) agter haar laatlamboetie, Micah (1), aandraf.

“Hy is verkoue en ’n bietjie knieserig,” verduidelikZane Meas en kyk trots na die bulletjie vir wie hy en Megan (40) so hard gebid het.

Die man wat ons as die waardige Neville Meintjies van 7de Laan ken, is baie ernstig oor sy loopbaan as akteur, maar sy gesin kom altyd eerste in sy lewe.

Hy probeer die beste pa moontlik vir sy kinders wees, sê hy, want hy sien te veel hoe kinders wat sonder pa’s grootword, sukkel om hul voete te vind in die lewe.

“By elke kerk waar ek praat, is daar gebroke vroue wat agterna kom vertel hoe moeilik dit vir hulle op hul eie is. Ek sien hoe ons kinders in hierdie land sukkel om hul identiteit te vorm omdat hul pappies nie by die huis is nie,” sê Zane.

Hy is al baie jare lank betrokke by die AGS-kerk in Westbury, Johannesburg, en vier jaar gelede het hy die Vaderskapstigting op die been gebring. Dit was nog altyd vir hom ’n roeping omoor vaderskap te praat, sê hy, en nou het hy uiteindelik een van sy drome verwesenlik: Sy boek oor hoe om ’n goeie pa vir jou kind te wees is nou landwyd

op die rakke.

Daddy, Come Home is ’n pleidooi aan mans om hul plek in hul gesin terug te neem, sê Zane.

“Vaderloosheid saai verwoesting. Meer verwoesting as MIV. My boek gee praktiese raad, en hopelik sal pa’s ’n boodskap daarin kan kry.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Junie 2010