VIR haar is haar swangerskap ’n bittersoet ervaring, sê sy, maar hy glo dis God se manier om haar ná die dood van haar geliefde eersteling te troos – ’n tragedie wat Suid-Afrika se beroemdste familie te midde van die feestelikhede van die Wêreldbekersokkertoernooi in rou gedompel het.

Juis toe Zoleka Seakamela, Madiba se kleindogter, verlede jaar ná die dood van haar dogter, Zenani, ’n laagtepunt bereik het, het haar vriendskap met Sekoati Tsubane, 7de Laan se ambisieuse Kabelo, in ’n liefdesverhouding ontluik.

Hy het haar berusting help vind nadat haar dogter op pad terug van die openingskonsert vir die Wêreldbekertoernooi in die Orlando-stadion in Soweto in ’n motorongeluk gesterf het.

Zenani, wat twee dae tevore haar 13de verjaardag gevier het, het op die agtersitplek van die Mercedes-Benz CLS 500 geslaap toe dit ’n versperring op Johannesburg se M1-snelweg tref. Sy is op slag dood.

Die bestuurder, Sizwe Mankazana, sal op 17 Maart weer in die hof verskyn op aanklag van moord.

Hartverskeurende tonele van die treurende Mandela-familie het regoor die wêreld op voorblaaie verskyn. Madiba het broos en moeg gelyk toe hy die kerk binnegelei is vir sy geliefde agterkleinkind se gedenkdiens.

’n Verslae Zoleka het by haar hegte vriend Sekoati gaan troos soek – en ná ’n ruk het hul vriendskap in iets diepers ontwikkel.

“Ek het my pyn weggesteek, dit onderdruk en dit was nie gesond nie,” vertel sy nou. “Maar Sekoati het my daardeur gehelp en nou het ek iets positiefs om na uit te sien – my verhouding met hom en ’n nuwe baba.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Maart 2011