KINDERS sê gereeld grootoog vir haar: “Ons het so lank geoefen om dit reg te vra . . .” En dan maak hulle keel skoon en sê in ’n kastig Roemeense aksent: “Ek jou handtekening kry, ja?”

En die verbaasde gesiggies is omtrent iets om te aanskou wanneer Angelique Gerber in vlot Afrikaans antwoord. Want by 7de Laan se miljoene kykers is daar geen twyfel nie dat die krulkop Clara wat in die boetiek werk, regtig, egtig Roemeens is.

Mense praat met haar asof sy Afrikaans nie mooi verstaan nie, vertel Angelique (27). “Een keer het ’n vrou vyf minute lank presies soos Clara met my gepraat. En hoe meer ek probeer verduidelik ek is eintlik Afrikaans, hoe meer het sy aangehou. Ek het haar later maar laat begaan en saamgespeel,” vertel die aktrise vrolik.

Dis amper moeilik om te glo dié energieke, optimistiese jong vrou het ook al haar kwota struikelblokke in die lewe moes oorkom, en aan sommige werk sy steeds. Daar was die anoreksie wat sy op skool moes oorwin, en op universiteit het sy met angsaanvalle gesukkel.

En sy is steeds besig om haar verhouding met haar pa te herstel nadat haar ouers vroeg in haar lewe geskei is. “Maar ek bekommer my nie te veel daaroor nie,” sê sy en skud haar fyn skouertjies. “Dis net een van die dinge waardeur ek moet gaan – iemand vir wie ek moet plek maak in my lewe.”

Sy lag weer. “Ek het soveel om voor dankbaar te wees. Clara is ’n baie gewilde karakter en ek geniet dit om haar te speel. Maar ek moet erken, ek sal wat gee vir ’n ernstige wending in die storie om te wys ek is nie net ’n komiese aktrise nie. Ek hoop dit gebeur binnekort.”

Sy weet nie eintlik hoekom Clara so gewild is onder die manne in die Laan nie, bieg Angelique. “Sy kan driekwart van die tyd nie verstaan wat hulle sê nie. Dalk is dit haar onskuld en die feit dat sy so anders is.”

Die karakter, wat in 2008 in die Laan aangekom het, het intussen diep in kykers se hart ingekruip. “Clara het vreeslik baie aanhangers, oud en jonk.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 September 2010