Die 58-jarige sangeres was verstom toe Jeffré (46) die groot vraag vra toe hulle verlede Augustus met vakansie in Hawaii was.

“Ek was onkant gevang, dit was nie ’n vinnige ja nie,” het LaToya gesê. “Ek het nie ’n benul gehad dat hy dit beplan het nie. Ek kon nie verstaan hoekom hy so senuweeagtig was nie.”

Jeffré het haar ’n pad bestrooi met roosblare en katjiepierings laat volg tot by hul hotelkamer se balkon, waar hy ’n romantiese ete van haar gunsteling-kos voorberei het, voor hy haar met ’n diamantring van 17,5 karaat verras het wat hy onder ’n nagereg-skottel weggesteek het.

Sy het aan die tydskrif People gesê haar hart het gestop op daardie oomblik. “Ek was geskok. Ons is beste vriende en is al vir jare sakevennote. Dit was altyd professioneel – nie een van ons het eintlik die grense van die verhouding getoets nie.”

Hoewel LaToya – ouer suster van die wyle Thriller-sanger Michael Jackson – nie haar trouplanne wou bespreek nie, het sy gesê aanhangers sal weet wanneer sy gaan trou as hulle haar nuwe werklikheidsreeks, Life with LaToya, volg wat vanaf 7 Junie op OWN uitgesaai word.

“Julle sal moet wag om die reeks te kyk,” het sy gesê.