Serge Pavlovic, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nudiste Vereniging (SANNA) het in ’n e-pos aan Traveller24 bevestig dat die bekendstelling voortgaan soos beplan ten spyte van weerstand van ’n groep bekommerde inwoners.

Die Hibuscus Kus-munisipaliteit het reeds in Oktober 2014 SANNA se aansoek goedgekeur vir Mpenjati om ’n nudis-vriendelike strand te wees en 3 April 2015 is as die amptelike openingsdatum aangedui. Dié besluit is egter in Maart vanjaar bevraagteken deur ’n groep wat hulself die Concerned Citizens of HCM noem. Hulle het beswaar aangeteken op grond van morele/etiese oorwegings, regskwessies, omgewingswette asook sosio-ekonomiese en kulturele kwessies. Hierdie besware is tydens ’n raadsvergadering bespreek, maar dis nie as grondige besware beskou nie.

Serge sê honderde nudiste word komende Saterdag en Sondag verwag. Verskeie aktiwiteite word beplan om die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste amptelike nudistestrand te vier.

“Hierdie is ’n ‘toetslopie’ en ons sal vlugbal en ander lekker speletjies soos sakresies hê om seker te maak dat almal se tyd op die strand meer aangenaam is,” het hy gesê.

Alhoewel Sandy Bay in Kaapstad grootliks aanvaar word as ’n nudistestrand, het Serge bygevoeg dat dit nie amptelik is nie. “Ons is ook besig met ’n petisie sodat Sandy Bay amptelik ’n tweede nudiste-strand in Suid-Afrika kan word.

“Ons het alreeds meer as 700 handtekeninge ingesamel vir hierdie petisie en as alles volgens plan verloop met handtekeninge versamel op Mpenjati-strand die naweek sal ons meer as 1 000 handtekeninge hê.”

- Traveller24