Die program, wat nog net twee jaar oud is, het die SABC-swaargewigte 50/50, Top Billing en I Am Woman: Leap Of Faith uitgestof.

“Ons het gehoop ons wen, maar by die Saftas kom jy teen groot kanonne te staan,” sê Paul Venter, een van die program se vervaardigers.

“Dis maklik om in die Afrikaanse hoekie klein en alleen te voel, maar toe ons wen, was dit omtrent lekker!”

Hannes van Wyk, een van die reeks se aanbieders, stem saam.

“Dis ’n vreeslik groot eer,” sê hy. “Wat dit veral ongelooflik maak, is dat die pryse deur mense beoordeel word wat in die televisiebedryf werk, so om erkenning van hulle te kry beteken regtig baie.”

Tog meen hy die eintlike sterre is die kykers, vir wie die reeks gemaak word en wat dit so getrou ondersteun.

“Ons maak dit vir almal wat elke Donderdag kyk; dis waaroor dit gaan. Wanneer ons stories kies en ek vrae vra, vra ek wat kykers graag wil weet. Ons hou dit informeel en probeer gewone stories met ’n nuwe inslag aanbied – alles vir die kyker; daarom is die reeks so ’n sukses.

“Ons hoop dit sal nog lank ’n sukses bly.”

– Christiaan Boonzaier.