Kykers kan later vanjaar uitsien na Ouboet en Wors.

Die reeks se skrywer, die akteur en vervaardiger Willie Esterhuizen, sê hy het die beste uit die reekse Orkney Snork Nie en Vetkoekpaleis (albei uit sy pen), saamgegooi.

“Ek skryf baie lekker aan die reeks. Dis soos om ou vriende te besoek,” vertel hy.

In die reeks gaan Ouboet (Frank Opperman) van Orkney Snork Nie-faam en Wors (Willie) van Vetkoekpaleis-faam se paaie kruis.

“Hulle is nou albei entrepreneurs, want om werk te kry, gaan mos maar sukkel-sukkel. Wors het sy eie battery-onderneming en Ouboet ’n plek wat enige ding met ’n enjin regmaak,” vertel Willie.

“Dis soos om op Ontdekkers (’n hoofweg in Roodepoort) uit te ry: jy sien mos al daardie entrepreneurs wat so uit hul huise werk. Dis nou waar hulle entrepreneurs is: Daar is Batteries by Wors, Fietse by Ouboet, Hair by Hendrikkie (Ouboet se seun) en Beauty by Boeboe.

“Boeboe (Liane Heyl) is in al die episodes. Sy het ’n onuithoudbare dogter wat sy alleen grootmaak. Sy was al vier keer getroud. Kykers gaan ook nou sien watter pad die karakters sedertdien gestap het.

“Hendrikkie (gespeel deur Kaz McFadden), is nou groot en hy is ’n haarkapper.

Molly (Lizz Meiring) en Yolanda (Sally Campher), oftewel Yollie, gaan ook te sien wees. Yollie gaan moeilikheid maak. Daar is ook ’n ou met die naam Gielie (Wynand van Vollenstee). Hy was in ’n verbeteringskool. Hy is minder skerp en sukkel ’n bietjie om werk te kry.”

Willie vertel “dit gaan iets wees om te aanskou wanneer twee ‘intellektuele reuse’ soos Ouboet en Wors in ’n gesprek betrokke raak”. Hy skryf tans nog aan die reeks se draaiboek en hulle begin dit in Mei opneem. Dit sal voorlopig teen einde Oktober op kykNET uitgesaai word.

Met die aankondiging van kykNET se opwindende nuwighede wat Donderdagaand by Katy’s Palace Bar in Johannesburg plaasgevind het, is die gehoor vermaak met musiek deur kunstenaars soos Amanda Strydom, Francois van Coke, BlackByrd, Lynelle Kenned en Willem Botha.

kykNET het uit sy bekende blou gemakstoel opgestaan om kykers met ’n nuwe handelsmerk van ’n hoofletter “K” en die slagspreuk “Vol lewe” te groet.

kyknet-logo-gif

Luidens ’n mediaverklaring verteenwoordig die nuwe visuele voorkoms ’n hervestiging van kykNET se lojaliteit teenoor hul kykers deur inhoud te skep wat “vol lewe, toekomsgerig en positief is – gereed om ’n groter, wyer wêreld te verken”.

Verskeie nuwe programme soos die komediereeks Phil 101 en dramareeks Sara se Geheim kom saam met die verandering - en begin in April.

“Ek dink die nuwe baadjie is fantasties,” vertel Willie, wat al meer as ’n dekade programme vir kykNET vervaardig. Hy het onder meer 78 episodes van die kykNET-komediereeks Molly en Wors geskep.

Hy meen terwyl die mededinging nou strawwer as ooit is, bly kykNET altyd vernuwend.

“Was dit nie vir kykNET nie, sou Afrikaanse televisie nie gewees het waar dit vandag is nie. kykNET het Afrikaanse televisie se gat gered!”