Die gewilde Afrikaanse TV-kanaal KykNET het aangekondig hulle gaan van begin Oktober nuwe programme uitsaai en dat daar verskeie roosterveranderings gemaak gaan word – natuurlik vir nog meer kykgenot!

“Dié veranderinge word gemaak in ons voortdurende strewe om bykomende waarde tot ons programaanbod toe te voeg” sê Karen Meiring, die direkteur van Afrikaanse Kanale by M-Net.

KykNET gaan kykers nou saans van halfsewe tot elfuur vars program-inhoud bied.

“Villa Rosa en Binnelanders kry albei nuwe kykgleuwe: Villa Rosa skuif na net voor die nuus om sewe en Binnelanders na net ná die nuus, omstreeks halfagt,” sê Karen.

KykNET-liefhebbers het geen rede vir paniek nie, want dié TV-kanaal beloof hope vermaak, van kos tot musiek, komedie en drama.

Hier is die nuwe programme en veranderinge van Oktober:

  • Sepieliefhebbers moet dus onthou: Van 6 Oktober word Binnelanders om 19:30 uitgesaai; Villa Rosa skuif dan na 18:30.
  • ’n Tweede seison van 13 episodes van Die Munisipaliteit van Gwarra Gwarra word van 8 Oktober om 21:00 uitgesaai.
  • Kosfoendies kan weer lekker saam met Nataniël kook wanneer die tweede seisoen van Die Nataniël Tafel van 7 Oktober om 20:00 uitgesaai word.
  • Boer Soek ’n Vrou kom van 9 Oktober om 20:30 aan die beurt.
  • Die musiekprogram JAM word van 12 Oktober om 20:00 uitgesaai.
  • Die gewilde dramareeks Vallei van Sluiers is weer van 14 Oktober om 20:30 op die kassie.
  • Die leefstylprogram Kwêla sal voortaan om 20:00 op Woensdae uitgesaai word.
  • Vir die fees- en glansliefhebbers is dit belangrik om te weet dat Fiesta na Maandae om 20:00 skuif en Bravo! nou op Donderdae om 20:00 uitgesaai sal word.
  • Die aktualiteitsprogram Robinson Regstreeks skuif op 12 Oktober na 19:30 op Sondae.
  • Van 6 Oktober kan rugbyliefhebbers op Maandae om 20:30 regskuif vir Superrugby en op Vrydae om 20:00 saam met die Toks & Tjops-span kuier.
  • Daarna kan almal sommer om die vuur bly vir Jan Braai, wat voortaan op Vrydae om 21:00 uitgesaai sal word.

- Janine Nel