Die naam van dié Suid-Kaapse kusdorp word nou by ’n gesogte lysie van wenners ingesluit.

Hentiesbaai het in 2016 met die louere weggestap en Graaff-Reinet, De Rust, Sabie, Fouriesburg en Middelburg het ook al die Dorp van die Jaar-kroon gedra.

Die Kwêla Dorp van die Jaar-titel word toegeken aan die dorp wat die meeste SMS-stemme gekry het in die laaste stemweek van die kompetisie.

Die ander twee dorpe in die topdrie was Nelspruit en Barkley-Oos.

“Met die kompetisie kry Suid-Afrikaanse en Namibiese dorpe ’n kans om op te staan en te sê: Kyk na al die wonderlike goed wat in my dorp aangaan!” sê die Kwêla-aanbieder en organiseerder van die kompetisie, Therese Benade.

“Dit spreek tot mense se passie vir wat hulle ‘huis’ noem en gee gemeenskappe die kans om uit te reik na mekaar en saam te bou aan iets wat voordelig is vir almal.”

Volgens Therese was die top-dorpe kop-aan-kop en bykans elke dag het ’n ander dorp die voortou geneem.

“Die dorpe het ongelooflik hard gewerk en wat ook uitgestaan het, is hoe die mense uit verskeie oorde in dorpe hande gevat het – van sakeondernemings tot toerisme en munisipaliteite.”

Afrikaans.com, die kompetisie se hoofborg, se veldtog Hoe lyk Afrikaans in jou Dorp het ook vir inwoners ’n interaktiewe platform gegee om te spog met wat hul dorp uniek maak.

Nie net kan Mosselbaai nou met ’n gesogte titel spog nie, maar Kwêla se produksiespan skiet ’n advertensie van 30 sekondes vir die dorp. Dit sal gebruik word as deel van die R1 000 000-lugtyd om die dorp te bemark. Boonop kan die inwoners van Mosselbaai uitsien na ’n wenmakietie om die titel te vier.


Save