kykNET is met R30 000 beboet omdat hulle ’n program uitgesaai het waarin lyers aan Tourette-sindroom nageboots word, het die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) Dinsdag gesê.

“Die tribunaal het bevind die nabootsing kom neer op ’n ernstige aantasting van die waardigheid van mense wat aan Tourette-sindroom ly en dat die komediese aard van die episode die uitwerking vererger het,” het die kommissie in hul uitspraak gesê.

Die klagte was oor twee episodes van kykNET se komedieprogram Proesstraat, wat op die Duitse improvisasiekomedieprogram Schillerstrasse gegrond is. Dit word sonder ’n draaiboek voor ’n gehoor opgeneem.

Op 10 Februarie en 10 Maart het die aktrise Elize Cawood twee akteurs aangesê om voor te gee hulle is Tourette-lyers.

“Ons gevolgtrekking... is dat die waardigheid van mense wat aan Tourette-sindroom ly aansienlik belangriker is as die reg op kunsvryheid,” het die UKKSA bevind.

“Ons is van mening dat die aantasting in die betrokke geval ernstig was.”

Die tribunaal het gesê hulle kan in gevalle van ’n ernstige aantasting van waardigheid redelik hoë boetes van tussen R25 000 en ’n maksimum van R60 000 oplê.

Die UKKSA het gelas dat die kanaal die boete van R30 000 teen 31 Augustus betaal.

- Sapa