flieknet

fliekNET is ‘n kanaal wat slegs vanaf 10 Desember tot 31 Januarie 2015 op die lug sal wees. Van die gewildste rolprente wat oor die jare in Afrikaans vervaardig is, sal in hierdie tyd op die kanaal vertoon word.

Daar is letterlik ‘n fliek vir elke smaak, geleentheid en gemoedstoestand om die vakansie meer te verwyl.

Aksieprente soos Boetie Gaan Border Toe, Boetie Op Maneuvers, Kaptein Caprivi en Aanslag op Kariba sal die avontuurlustiges besig hou terwyl komedies soos Lipstiek Dipstiek, Molly en Wors en Orkney Snork Nie vir die komiese verligting sal sorg.

Vir die ernstige dramakykers is daar onder andere films soos Siener in die Suburbs, Nag van die 19de, Paljas en Fiela se Kind, terwyl die mense wat van musiekspele hou kan uitsien na films soos Jy is my liefling, Hoor my lied en Pretville.

Vir die jonges is daar onder andere Hoofmeisie en vir die wat hulle filmgeskiedenis op datum wil hou, is daar films soos Daar doer in die Bosveld, Katriena, Moedertjie en Kom saam Vanaand. Vir die wat van die 70’s en 80’s se films gehou het, is daar onder andere ‘n Pot vol winter, Snip en Rissiepit, Tant Ralie se Losieshuis en vele meer.

Daar is ook die televisiereekse wat in films verwerk is soos Vyfster, Nommer Asseblief en Agter Elke Man.

Van die meer onlangse films wat vertoon sal word, is Lien se Lankstaanskoene, Wolwedans in die Skemer, Verraaiers en Die Wonderwerker.

fliekNET sal op kanaal 198 van  DSTV gevind kan word.

Met kykNET se fliekNET-geskenkkanaal het niemand ‘n rede om verveeld te wees as hulle gedurende die vakansie met Jan Tuisbly se karretjie ry of hul Dstv SIM-kaarte saam op vakansie vat nie.