Die eerste aflewering van Bobby en Karlien: In Jou Skoene is eindelik Woensdagaand op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Dit het kykers so aan die hart gegryp dat hulle tot dusver amper R32 000 geskenk het aan die kinderhuis wat die bekende Van Jaarsveld-sibbes besoek het, vertel die vervaardigers.

Barmhartige Samaritane het dit gedoen deur candystick.co.za, ’n webtuiste vir skarefinansiering.

Die TV-reeks is nie net gemik op die singende sibbes se musiek-aanhangers; dis bedoel vir enigiemand wat omgee vir dié in nood of wat uitdagings die hoof moet bied, sê die vervaardigers ook.

In die reeks van 13 aflewerings onderneem Bobbie en Karlien twee dae op ’n keer ’n emosionele avontuur wat deur ’n familielid bepaal word.

In die eerste aflewering het kykers met die hele Van Jaarsveld-familie kennisgemaak. Bobby en Karlien se ouma Rina stuur hulle om twee dae in die Abraham Kriel-kinderhuis op Modimolle deur te bring.

“Dis roerend dat ons kykers so saamspan om die kinders van hierdie kinderhuis te help,” sê Izelle Venter, VIA se kanaalhoof.

“Dis ons eerste skarefinansieringspoging; daarom was dit ’n waagstuk, maar meer as 100 mense het al geld geskenk en ons staan op byna R32 000. Wat dit vir my so besonders maak, is dat dit nie saak maak hoeveel jy gee nie; saam maak al daai R50’e ’n beduidende verskil.”

VIA gaan met sommige van die episodes weer skarefinansiering inspan om dié in nood te help. Dié poging sal twee weke lank ná die uitsending aanhou, sê Izelle.

“Die geld gaan dan aan die mense of organisasie oor wie Bobby en Karlien se program gehandel het.”

Die eerste aflewering van In Jou Skoene is Woensdagaand op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Mense kan tot 25 Januarie geld aan die Abraham Kriel-kinderhuis skenk by candystick.co.za, ’n baie veilige platform.

Jy kan jou bydrae lewer per elektroniese oorbetaling of kredietkaart.