’n Sosiale mediastorm het oor die kop van Idols SA uitgebars nadat talle kykers hul ontevredenheid uitgespreek het oor die sogenaamde “vernederende” behandeling wat een deelnemer in die jongste episode van dié gewilde werklikheidsreeks ervaar het.

’n Ene Karabo, ’n vrou van Johannesburg, het in Sondagaand se episode ’n oudisie afgelê met die liedjie O Holy Night.

Een van die beoordelaars, Somizi Mhlongo, was ontevrede en het Karabo gevra om eerder ’n popliedjie te sing. Dis toe dat Karabo sê sy ken geen popliedjie nie en het ook nog nie van Beyoncé of Rihanna gehoor nie.

Nog ’n beoordelaar, die radio-omroeper Gareth Cliff, het gespot en gesê dis asof Karabo van ’n ander planeet gestuur is.

Kort voor lank het kykers hul misnoeë op sosiale media te kenne gegee en gesê die program spot en verneder Karabo. “As die beoordelaars nie opbouende kritiek kan lewer nie, moet hulle eerder stilbly. Hulle maak my naar!” het een kyker op Facebook geskryf. Ander het Karabo geloof vir die feit dat sy die moed gehad het om deel te neem. “Sy weet nie wie Beyoncé is nie. Wat maak dit saak?” vra een. Nog ’n kyker skryf “swak oudisies behoort glad nie eens uitgesaai te word nie; dit is vernederend” en dat die beoordelaars se gedrag “belaglik en bitter onprofessioneel” was.

Heelparty het gesê hulle het lankal opgehou om Idols SA te kyk juis oor die beoordelaars se onvanpaste houding jeens deelnemers.

Nie die beoordelaars óf die vervaardigers het op die kritiek gereageer nie.