Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, het aangekondig watter 36 rugbyspelers van 25 tot 28 Mei aan ’n nasionale oefenkamp sal deelneem.

Die ervare Springbok-staatmakers Victor Matfield en Schalk Burger is albei in die groep van 36 ingesluit. Victor het vanjaar sy uittrede beëindig om weer vir die Bulls te speel en Schalk speel weer kookwaterrugby vir die Stormers ná meer as ’n jaar langs die kantlyn weens beserings en siekte.

Heyneke het gesê hy is beïndruk met die goeie spel van die land se topspelers, sowel as ’n paar nuwelinge. “Victor en Schalk het ’n lang tyd nie rugby gespeel nie. Hulle albei speel die afgelope tyd uitstekend en is weer honger vir toetsrugby nadat hulle meer as twee jaar lank nie vir die Bokke gespeel het nie,” het die afrigter gesê.

Die groep sluit ook agt nuwelinge in. Hulle is: Lood de Jager, Teboho “Oupa” Mohoje, Marcel van der Merwe, Jacques du Plessis, Marnitz Boshoff, Damian de Allende, Cornal Hendricks en S’bura Sithole.

’n Ander Springbok wat ná ’n afwesigheid sy terugkeer na die groep maak, is Heinrich Brüssow van die Cheetahs.

Spelers wat in Frankryk, Engeland en Ierland speel, is nie vir die oefengroep oorweeg nie, terwyl ’n paar ander Springbokke ook as gevolg van beserings uitgesluit is.

“Ons het 14 baie uitdagende wedstryde in 2014, en dit is noodsaaklik dat ons voortbou op verlede jaar se goeie seisoen,” het Heyneke gesê.

Die Springbokke se eerste toetswedstryd is op 14 Junie teen Wallis in Durban.

Die volledige oefengroep is:

  • Voorspelers (20): Tendai Mtawarira (Sharks), Trevor Nyakane (Cheetahs), Marcel van der Merwe (Blue Bulls), Jannie du Plessis (Sharks), Frans Malherbe (Stormers), Coenie Oosthuizen (Cheetahs), Bismarck du Plessis (Sharks), Adriaan Strauss (Cheetahs), Eben Etzebeth (Stormers), Lood de Jager (Cheetahs), Victor Matfield (Blue Bulls), Flip van der Merwe (Blue Bulls), Heinrich Brüssow (Cheetahs), Marcell Coetzee (Sharks), Siya Kolisi (Stormers), Willem Alberts (Sharks), Jacques du Plessis (Blue Bulls), Teboho Mohoje (Cheetahs), Duane Vermeulen (Stormers), Schalk Burger (Stormers).
  • Agterspelers (16): Fourie du Preez (Suntory, Japan), Francois Hougaard (Blue Bulls), Johan Goosen (Cheetahs), Marnitz Boshoff (Lions), Jean de Villiers (Stormers), Damian de Allende (Stormers), Jan Serfontein (Blue Bulls), Juan de Jongh (Stormers), JJ Engelbrecht (Blue Bulls), S’bura Sithole (Sharks), Frans Steyn (Sharks), Lwazi Mvovo (Sharks), Bjorn Basson (Blue Bulls), J.P. Pietersen (Sharks), Cornal Hendricks (Cheetahs), Willie le Roux (Cheetahs).