“Ek het besluit om verandering aan die nasionale uitvoerende gesag te maak om die doeltreffendheid daarvan te verbeter,” sê pres. Zuma in sy verklaring.

“Die verandering bring sommige jonger LP’s en vroue na die nasionale uitvoerende gesag sodat dit by hul energie, ervaring en kundigheid kan baat vind.

“Ek het die nuwe ministers en adjunkministers gevra om onvermoeid saam met hul kollegas te werk, radikale sosio-ekonomiese transformasie teweeg te bring en om te verseker dat die belofte van ’n beter lewe vir die armes en die werkersklas ’n werklikheid word,” het hy bygevoeg.

In die middernagtelike mediaverklaring het pres. Zuma die spekulasie oor ’n slagting in sy kabinet in swart op wit uitgespel.

Minister Pravin Gordhan, minister van finansies en sy adjunk Mcebisi Jonas se koppe het, soos verwag is, gerol.

Malusi Gigaba, die voormalige minister van binnelandse sake, is nou minister van finansies, terwyl Sifisu Buthelezi die plek as sy adjunk inneem.

Fikile Mbalula, minister van sport, is nou minister van polisie, terwyl Nathi Nhleko, voormalige minister van polisie, nou die minister van openbare werke is. Thembelani Nxesi is die nuwe minister van sport.

Derek Hanekom, wat Zuma op meer as een front gekritiseer het, se kop het ook gerol. Tokozile Xasa is nou die minister van toerisme.

Altesaam is daar 10 nuwe ministers en 10 nuwe adjunkministers.

Faith Muthambi, wat lelik in die hek geduik het met haar hantering van die SAUK, is ook nie meer minister van kommunikasie nie, sy is nou die minister van openbare diens en administrasie. Ayanda Dlodlo neem Muthambi se plek in as politieke hoof van die departement van kommunikasie.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, wie vroeër in Maart deur die konstitusionele hof ingelig is wat hulle van haar onbekwaamheid dink met die uitbetaling van maatskaplike toelae, is egter nie in die kabinetskommeling geraak nie.

Mmusi Maimane, DA-leier, het vroeg Vrydagoggend in ’n verklaring gesê die president se besluit om Gordhan en Jonas te pos, moet ’n beroep wees aan alle Suid-Afrikaners om saam te staan en Suid-Afrika se hardgewonne demokrasie te beskerm. HIER IS DIE LYS SOOS WAT DIE PRESIDENSIE DIT UITGEREIK HET: