[caption id="attachment_161930" align="aligncenter" width="600"]Foto: Verskaf Anya Strohm het groot "Npt a Parking" op die motor se voorruit geskryf. Foto: Verskaf[/caption]

Anya Strohm en haar vriendinne was Sondag (25 Februarie) by die China Mall in Weltevreden Park, maar toe sy ná die uitstappie by haar motor kom, was ’n silwer Toyota Camry so geparkeer dat sy nie kon uitkom nie. Die onbekende bestuurder het boonop stilgehou op ’n plek waar parkering verbode is.

’n Ontstoke Anya is ná sowat ’n uur se gewag terug winkels toe om ’n rooi lipstiffie te koop. Sy het haar woede en frustrasie op die lastige motor uitgehaal en met die lipstiffie op die kar se vensters geskryf, onder meer “DOM BESTUURDER” op die agterruit.

[caption id="attachment_161928" align="aligncenter" width="600"]Anya Strohm was behoorlik boos toe die vrou haar vasparkeer. Foto: Verskaf Anya Strohm was behoorlik boos toe die vrou haar vasparkeer. Foto: Verskaf[/caption]

Asof dit nie genoeg was nie, het sy foto’s van haar kunswerk geneem en dit op Facebook geplaas.

In haar boodskap het sy die voorval verduidelik en ook die bestuurder uitgedaag om met haar kontak te maak. “Ek is vreeslik trots op myself,” het sy aan huisgenoot.com gesê oor haar optrede.

Sy het verduidelik dat sy byna ’n uur gewag het, maar die bestuurder het nie opgedaag om die voertuig weg te trek nie.

[caption id="attachment_161929" align="aligncenter" width="600"]Die bestuurder het nooit opgedaag nie. Foto: Verskaf Die bestuurder het nooit opgedaag nie. Foto: Verskaf[/caption]

“Ons het selfs die sekuriteitspersoneel genader om te help om die bestuurder op te spoor, maar sonder sukses.”

Sy het eindelik, ná ’n groot gesukkel, dit tog reggekry om met haar motor net-net uit die klein ruimte te ry. Sy is woedend terug huis toe.

Teen laat Donderdagmiddag (2 Maart) het Anya nog niks van die bestuurder gehoor nie, ten spyte van haar Facebook-inskrywing.