Mama June (37), wat eens 208 kg geweeg het, het ’n maagomleidingsoperasie ondergaan om haar “lyf eksieperfeksie te kry uit weerwraak” nadat haar huwelik met Mike “Sugar Bear” Thompson in Februarie beëindig is. Hy het ’n nuwe lewe, met ’n nuwe vrou, begin.

Sy het glo ’n maagomleiding en borsverkleiningsoperasie ondergaan, asook vel van haar arms en nek laat verwyder. Sy dra glo nou Amerikaanse no.4-grootte klere.

Die ma van vier sê in ’n lokprent voor haar nuwe TV-dokudrama, Mama June: From Hot to Not, uitgereik word: “Ek verander my lyf en my liefdeslewe. Ek is op die punt om die grootste transformasie van my lewe te onderneem. Hierdie operasie is die vreesaanjaendste ding wat ek nog ooit gedoen het, maar daar is ’n maerder mens binne my.”

Die proses het sewe maande geduur en haar laaste operasie was in Desember. Sy sê sy’t self vir alles betaal en dat die uitsaaikanaal of produksiemaatskappy nie met koste gehelp het nie, want “die operasie sou gebeur het, of hulle hier was of nie”.

Maar ten spyte van haar ongelooflike transformasie sê haar 17-jarige dogter Pumpkin (Lauryn Thompson) haar ma dink steeds sy is vet. “Ek dink die grootste struikelblok wat sy moet oorkom, is dat sy steeds aan haarself as ’n vet mens dink. Ons het ’n paar dae gelede gesels en sy’t in die spieël gekyk en gesê: ‘Ek’s nog vet’,” sê Pumpkin.

“Ek dink omdat sy haarself al die jare as ’n groot mens beskou het, besef sy nie hoe maer sy is nie.”

Wel, ons dink sy lyk goed.

– Nici De Wet

Bronne: ET Online, News.com.au