Wene is die bekoorlike Oostenrykse stad wat normaalweg met grasieuse baldanse, opera, knus tavernes, ligvoet-Lippizaners en wonderlike argitektuur assosieer word.

Dit was ook waar Haydn, Mozart, Beethoven en Schubert van die mooiste musiek gekomponeer het.

Maar wie het geweet dat iewers in die sjarmante stad daar 'n filharmoniese orkes is wat vir die vreemdste redes wêreldbekend is? Boonop beproef die orkes al vir dieselfde tydperk een van die vreemdste gebruike denkbaar na afloop van elke uitvoering.

Een van die redes daarvoor is deels dat hulle hul instrumente na elke uitvoering in 'n groot pot gooi . . . en kóók. Maar moenie glo nie, dit is nie daaraan te wyte dat hulle graag hul instrumente steriel wil hou nie.

Daar's 'n volgende kinkel wat verklik hoe die orkes dit regkry om deurentyd met 'n "vars aanslag" vorendag kan kom. Want sien, daar word sop van die opgekookte instrumente gemaak wat met groot smaak deur die gehoor verorber word.

Voor jou geestesoog sien jy al hoe die gehoor verstik aan stukke van 'n viool,'n trom probeer afwurg of 'n fluit met hul tande probeer knak. Maar dis allesbehalwe wat by een van hierdie spesiale uitvoerings gebeur.

Dié orkes is alles behalwe konvensioneel. Hulle maak musiek met regte eiervrugte, pampoene, groenrissies, radyse, kruie en wortels. Wel, feitlik enigiets wat jy by jou naaste groentesmous kan koop. Elke musiekinstrument wat deel vorm van die Groente-orkes se repertoire, reg gelees: Groente-orkes, word voor die vertoning met die hand by die plaaslike groentemark uitgesoek. Daar word die verskeidenheid "instrumente" bevoel, geskud, gedraai, getimmer, teen mekaar gevryf om die klank te toets voor dit in die mandjie beland. Die lede van die groep neem dan hul plaasvars instrumente na hul werkswinkel waar van dit onder meer geboor en uitgehol word. Daar word gevoel en gewerskaf dat die skille so trek terwyl elke instrument se klank vir die vertoning verfyn word.

Na die vertoning is daar net een pad vir die instrumente en dis pot toe! Praat van 'n geurige, keurige uitvoering.

Dis mos musiek vir jou ore én jou maag!

Die orkes het reeds drie albums uitgereik:

Gemise (1999)

Automate (2003)

Onionoise (2010)

Sowat drie jaar gelede het die groentegier ook na Londen versprei. Nou is daar die London Vegetable Orchestra wat nes die oorspronklike Vegetable Orchestra, towernote uit doodgewone groente ontlok.

Die groot vraag wat net 'n musiekkenner met 'n baie fyn oor kan antwoord, is of die Oostenrykse groente of die Engelse groente die mooiste musiek maak . . .

Bronne: wikipedia.com, vegetableorchestra.org, londonvegetableorchestra.com