Ter viering van GWR-dag 2016 is Katyucia Hoshino en Paulo da Silva Barros onlangs in Londen amptelik as die wêreld se kortste egpaar aangewys en aan die wêreldmedia bekend gestel. GWR het vir die Brasiliaanse verliefdes, wat saam net 181,41 cm lank is, ’n rooi tapyt uitgerol toe hulle in hul trou-uitrustings voor die Britse hoofstad se bekende parlementsgebou vir foto’s poseer het.  

Die 31-jarige Paulo, net 90,28 cm lank, moes kophou om die 91,13 cm lange Katyucia (28) se hart te wen nadat hulle tien jaar gelede die eerste keer in die sosiale media gesels het.

Hulle is voorverlede maand in Itupeva, Brasilië, voor familie en vriende getroud – maar eers ná ’n uitgerekte romanse waartydens Paulo, wie se vriende hom ook “Paulinho Gigante” (Klein Paulo die Reus) noem, soms diep moes delf.

Katyucia het sy boodskappe immers geblokkeer toe hy die eerste keer op Google se destydse sosiale netwerk Orkut begin vlerksleep.

“Ek het gedink sy is verruklik toe ek die eerste keer haar foto sien,” het Paulo vertel. Maar sy het gedink hy is “irriterend” en gou sy pogings kortgeknip om haar te leer ken. “Sy’t gedink ek probeer flankeer, maar ek was bloot vriendelik. Volgens haar was ek ook ’n baie vervelige ou.” Gelukkig vir albei het sy heelwat later op die ingewing van die oomblik besluit om die blok af te haal gedruk. “Dit was toe skaars ’n minuut voor ek weer vir haar hallo gesê het. Ons het behoorlik begin gesels en sy het gereken ek was meer beskaaf . . .”  

’n Week nadat hulle mekaar in Desember 2008 van aangesig tot aangesig ontmoet het, het hulle begin uitgaan. Maar dit was meestal ’n langafstandverhouding voordat die skoonheidsalon-eienaar in 2012 na haar kêrel, ’n munisipale amptenaar, se tuisdorp getrek het. En eers ná nog vier jaar was hulle oortuig hulle is vir mekaar bedoel. Enersyds vind hulle hul samesyn trek nog groter aandag – en daar sal maar altyd oral wrede mense wees. Maar andersyds gee hul saamwees hul ook groter krag om die aandag te hanteer, het die twee vertel. Sy bynaam is ook nie verniet Gigante nie: Paulo kon tot op 21-jarige leeftyd nie loop nie, het as tiener hoofsaaklik met ’n kind se driewiel oor die weg gekom en na ’n vierwiel-hulpmiddel oorgeskakel toe hy 20 word. Teen 2008 het hy met die hulp van ortopediese stewels leer loop. Vandag bestuur hy ook ’n motor wat spesiaal vir hom toegerus is.  

Net voor hul GWR-erkenning gister het Katyucia laat hoor: “Ons hoop dit sal mense help aanspoor om verby die fisieke verskille in ander te kyk en te verstaan almal moet gelyk behandel word.

“Ons is nou wel kort, maar het groot harte en baie liefde vir mekaar en almal in ons lewe. Ons het ons uitdagings, maar voel so geseënd dat ons hulle saam kan aanpak.”

Bronne: guinnessworldrecords.com, mirror.co.uk, telegraph.co.uk