Die wydverspreide reën beteken nie die einde van die provinsie se waterkrisis nie.

Waterbesparing moet die provinsie se nuwe “normaal” wees.

Die Stad Kaapstad het Saterdag ‘ verklaring uitgereik waarin aangedui is dat die damvlakke kwalik 25,3 persent vol is. Theewaterskloofdam, die grootste dam wat water aan die Moederstad verskaf, is net 19,2 persent vol in vergelyking met 36 persent verlede jaar dié tyd.

Eddie Andrews, ’n burgermeesterskomiteelid, het gesê waterbesparing moet die provinsie se nuwe “normaal” wees en dat dit uiters belangrik is om die nodige waterreserwes op te bou.

Veral die inwoners van die Wes-Kaapse kusdorp, Bettiesbaai, het die reën met ope arms verwelkom nadat ’n brand Saterdagaand teen die bergehellings uitgebreek het.

Sterk wind het die vlamme nog verder aangehits. Die reën het omstreeks 01:00 Sondagoggend begin val en die vlamme help blus.

Tussendeur is daar ook berigte van reëin in dele van die Noord- en Oos-Kaap.

Die bibber word natuurlik aangejaag deur sneeu wat die berge by Somerset-Wes naby Kaapstad in ’n wit kombers bedek het.

Die kouefront het Sondagoggend die land begin bereik en sneeu word ook op die Sederberg, Hexrivierberg en Sneeukop verwag.

Snowreport voorspel swaarder sneeuneerslae van tot 10 cm kan Sondag by Worcester se berge verwag word voordat die sneeu Maandagoggend sal ophou val.