Die voormalige Spice Girls-ster Geri Horner is swanger met haar tweede kind. Dit sal die Britse sangeres (44), voorheen bekend as Geri Halliwell, se eersteling saam met haar man, Christian Horner, wees. Sy en die Red Bull Formula One-spanbaas het verlede jaar afgehaak. Die Wannabe-sangeres het ’n 10-jarige dogter, Bluebell, uit ’n vorige verhouding met die rolprentvervaardiger Sacha Gervasi en Christian het ’n driejarige dogter, Olivia, uit ’n vorige verhouding. “Hulle is in die wolke om aan te kondig hulle verwag hul eerste kind saam,” lui ’n verklaring wat Geri se woordvoerder aan The Sun uitgereik het.

“Die paartjie is verheug met die goeie nuus en kan nie wag om die jongste toevoeging tot hul gesin te verwelkom nie.” Geri het Maandag in ’n kriptiese inskrywing in die sosiale media op die groot nuus gesinspeel toe sy ’n foto van ’n handgeskrewe nota deel wat lui: “God bless Mother Nature,” ’n reël uit haar 2001-treffer It’s Raining Men. Sy’t daarby geskryf: #mamaspice”. Screen Shot 2016-10-11 at 15.43.21 Die ster se babanuus kom enkele maande nadat sy en haar voormalige groeplede Melanie Brown (41) en Emma Bunton (40) herenig en planne aangekondig het om as trio genaamd GEM op te tree. Dis onbekend hoe die nuwe groep hul terugkeer na popmusiek gaan maak noudat Geri swanger is.

Die sangeres het haar romanse met Christian in Maart 2014 bekendgemaak en hulle het in November daardie jaar verloof geraak. Hulle is in Mei 2015 voor familie en vriende, waaronder Mel B en Emma, in Woburn, Engeland getroud.

Geri kan nie uitgepraat raak oor haar lewe as mev. Horner nie.

“My man is my beste vriend. Hy ken my volkome, en ek hoef myself nie te temper met hom nie. Dit was ’n groot leerkurwe.” Sy het ’n paar maande ná die troue gesê hulle kan nie wag om hul gesin uit te brei nie, hoewel sy dit in die noodlot se hande laat.

“As dit gebeur, gebeur dit en sal dit wonderlik wees. Maar ons is reeds geseën met twee dogters. Ons kan dalk aanneming oorweeg, maar om eerlik te wees, ons is gelukkig met dinge soos dit is en jy moet ook besef jy moenie vir te veel wens nie.”

Cover Media