En toe Emma vyf maande later met klein Thinus terugkeer, was daar geen teken van Dawid Greeff nie.

[caption id="attachment_148440" align="alignnone" width="600"]Stian Bam (Foto: Peet Mocke) Stian Bam (Foto: Peet Mocke)[/caption]

Nou, ses jaar later, is Stian Bam wat die rol van Dawid vertolk, terug en dit lyk nie of Dawid enigsins van sy ou streke ontslae geraak het nie.

“Dis altyd lekker om terug te gaan,” sê Stian. “Dit is mos soos familie daar en ’n mens skakel baie lekker in.”

Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat hy Emma gestrand gelos het nadat hy haar oortuig het om uit die tronk te ontsnap.

Hy wil nie te veel verklap oor wat ons alles van Dawid kan verwag terwyl hy in Hillside rondhang nie, maar sê dit is maar “dieselfde ou Dawid” van destyds wat sy verskyning maak.

Stian sê dit is nogal moeilik om ná soveel jaar weer in ’n karakter in te klim, maar eintlik was meervoudige kamerawerk ’n groter uitdaging as die rol wat hy vertolk.

En word Stian al deur vreemdelinge uitgetrap omdat Dawid mense se lewe so onnodig omkrap? “Ek is gelukkig; mense is darem meestal vriendelik,” sê hy.

Wanneer hy nie die rol van Dawid Greeff vertolk nie, geniet hy dit om tyd saam met sy twee kinders, Jannes (4) en Sophia (amper 10 maande), deur te bring.

Volgende jaar is hy ook by die Woordfees in Pa en Asem te sien en by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Koninkryk van die Diere.