kykNET het pas aangekondig dié spontane skoonheid gaan eersdaags ’n veldaanbieder word op die bekroonde joernaalprogram Kwêla.

Kindness is the language which the deaf can hear and the blind can see - Mark Twain #bekind #worldkindnessday ? @claudiadenobrega

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on
“Ek is ongelooflik opgewonde om weer by ’n joernaalprogram aan te sluit en boonop is Kwêla een van my gunsteling programme waarby ek aanklank vind,” sê Minki. Minki (32), haar man, die oudrugbyspeler Ernst Joubert (36), en hul kroos, Katerien (3) en Elise (2), het ’n jaar gelede teruggetrek na Suid-Afrika nadat hulle vyf jaar in Londen gewoon het. Ernst het daar vir Saracens uitgedraf.
Terug in hul vaderland hou die TV-werk vir Minki net aan met inrol. Sy het onlangs aan Huisgenoot gesê sy is in die wolke oor kykers se terugvoer oor Boer Soek ’n Vrou. Sy bied dit vanjaar vir die eerste keer aan. “Dis fantasties en ek is so opgewonde vir die boere se part. Daar was ’n paar ongemaklike oomblikke, maar dit is vermaaklike kykstof. Ek is baie dankbaar vir die goeie terugvoer.”
Kykers is veral gek oor haar natuurlike, egte aanslag terwyl sy die boere met hul hartsake help. Aanhangers meen haar styl is baie gemaklik; sy gesels met die deelnemers soos sy met enigiemand anders sou. Minki was voorheen ’n aanbieder van die SABC2-joernaalprogram Pasella.

Voor Minki se opwindende Kwêla-reis begin, gaan sy en haar gesin eers Kersfees en Nuwejaar saam met hul familie op Hermanus en Stilbaai deurbring.

“Dit was ’n rowwe jaar en ek het lekker hard gewerk. Ons gaan eers op Hermanus uitspan en ry dan Kersdag na my ouers op Stilbaai,” het Minki onlangs vertel.

Met ’n jaar vol nuwe interessante projekte gaan sy die blaaskans beslis nodig hê.

Baie geluk met al die groot dinge, Minki! Ons sien uit daarna om jou in die nuwe jaar meer van jou op die kassie te sien.