En vanaand gaan die groep Die Heuwels Fantasties hul enkelsnit bekendstel – en dit nogal in die kykNET-sepie Binnelanders se kroeg, Nagskof.

Die Heuwels Fantasties sing in Nagskof. Van links is Fred den Hartog, Pierre Greef en Hunter Kennedy.

Die groep het met hul sepiedebuut omtrent lekker saam met die akteurs soos Cindy Swanepoel (dr. Annelize Roux) en Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker) gekuier. 

Dit is heel gepas dat hul tweede enkelsnit op hul jongste album in Nagskof bekendgestel gaan word – die liedjie se naam is immers Laaste Rondtes. 

“By Binnelanders is ons altyd op soek na talent wat in Nagskof kan optree. Toe Alishia van Deventer van Starburst Promosies, wat Die Heuwels Fantasties se bemarking behartig, ons nader om te hoor of Binnelanders nie dalk die tweede enkelsnit van die musiekgroep se vyfde album wil bekendstel nie, het ons die idee met ope arms verwelkom,” sê Ernst Swart, publisiteitbestuurder by Binnelanders.

Reynardt Hugo (dr. Tertius Jonker) saam met Die Heuwels Fantasties.

“Laaste Rondtes pas perfek in by die vervlegte storielyne, en weerspieël die emosionele reis waarop elkeen van die Binnelanders in hierdie episode is.”

En dis omtrent dramatiese reise . . .

Nagskof se bestuurder, Louis Koster (gespeel deur Germandt Geldenhuys), bevind hom die afgelope paar weke in groot gemors weens die liefde. Hy het mos verlief en ook verloof geraak aan Tracy (Corné Crous).

Hunter Kennedy (links) en Pierre Greeff saam met Cindy Swanepoel (Annalize).

Maar Tracy se suster, Alice (Laré Brink), koester al jare lank ’n wrok teen Louis weens ’n voorval uit die verlede wat Alice se gesig geskend het. Tracy het aanvanklik saam met Alice wraakplanne teen Louis gesmee, maar toe ontwikkel sy gevoelens vir hom. En natuurlik hou Alice niks daarvan nie.

Dan wonder kykers ook of Lexi Abrahams (Keisha Skei) die moed sal kan bymekaarskraap om haar ma, Bronwyn (Kim Cloete), en pa, Steve (Clint Brink), te vertel dat sy en haar nuwe kêrel, Ross (Luan Jacobs), ’n baba verwag. 

Groot drama speel vanaand in die sepie af!

En ons wonder of Koda weer vanaand gaan huil as Binnelanders se temaliedjie speel!