Die pragtige rooikop-aktrise Amalia Uys is verloof en haar beker loop sonder twyfel oor!

“Dit is alles baie opwindend,” vertel die Sy Klink Soos Lente-aktrise aan Huisgenoot. “Ons het al daaroor gepraat (om verloof te raak), maar ek het dit glad nie verwag nie.”

Die ster en haar kêrel van die afgelope twee en ’n half jaar, Shaun Golding, het in Desember verloof geraak, maar het gekies om die blye nuus vir eers stil te hou.

Hulle het by haar ouers op Port Owen aan die Weskus gekuier toe hy haar die groot vraag op die strand vra. “Dit was baie spesiaal. Ek is mal oor die Weskus en as kind het ons elke vakansie daar deurgebring,” koer sy voort.

Boonop het die paartjie mekaar ook destyds aan die Weskus ontmoet.

“Ons wou (die goeie nuus) eers net so bietjie stil hou,” verduidelik Amalia hul besluit. Sy het dit eers Sondag saam met ’n fotomontage op Instagram aangekondig.

A photo posted by @amalia1uys on

“Ek vind my hart deur my hande te gebruik. Jy is my voete op die grond, my voetafdrukke. Van waar ek begin het dra ek steeds jou liefde," skryf die voormalige 7de Laan-aktrise by die foto.

"Ek is lief vir jou Shaun Golding. Ek is meer as gereed om hierdie reis saam met jou aan te pak. My liefde, my beste vriend, die verpersoonliking van liefde en goedheid." Amalia sê sy en Shaun vul mekaar baie goed aan en balanseer mekaar. “Hy is ’n lieflike, stabiele mens, vol liefde en goedheid. Ek voel veilig by hom en saam met hom is alles ’n avontuur.”

A photo posted by @amalia1uys on

A photo posted by @amalia1uys on

Sy sê haar ouers, Celia en Abè, hou baie van hom en hulle is dankbaar dat hy deel van haar lewe is.

Hulle het nog nie besluit waar en wanneer hulle sal trou nie, maar Amalia sê dit sal waarskynlik teen die einde van die jaar of vroeg volgende jaar wees.