Toe duik daar ’n video op van ’n bus iewers in China. Verskeie van die bus se aanboord-kameras het die oomblik vasgevang toe ’n busbestuurder wel die onverwagte gedoen het toe een van sy passasiers nie van die bus kon afklim nie.

Die passasier, duidelik ’n bejaarde wat met moeite loop, skuifel nader na die treetjies om af te klim. Maar aan sy stadige en wankelrige reaksie kon die trappies netsowel ’n gapende afgrond voor hom wees.

Die busbestuurder besef iets is fout en kyk om om seker te maak wat aangaan. Die volgende oomblik maak hy sy veiligheidsgordel los en klim self uit die bus uit.

Eers help hy die bejaarde deur sy hande vas te hou, maar toe dit by die laaste trappie kom, tel hy hom sommer net so in sy arms op om hom uit die bus te help. Hy sit hom versigtig neer, maak seker dat hy sy voete op die grond vind en help hom selfs ’n entjie aan om koers te kies.

Dan keer hy terug na sy bus om die roete te voltooi.

Ons is baie seker sy passasiers het geensins vir die verposing omgegee nie.

Het jy al iemand op ’n spesiale manier bygestaan of het jy dalk sélf al baat gevind by ’n vreemdeling se welkome hulp? Vertel gerus vir ons meer daarvan op ons Facebookblad.