Wat sou Altus Theart, Marno van der Merwe, Gustav Gerdener, David Louw en Albert Maritz gedoen het as hulle nie akteurs was nie? Al vyf mans sal van 1 April in die drama Modder en Bloed te sien wees.

[caption id="attachment_119964" align="alignnone" width="600"]Altus Theart saam sy vrou. Foto: Papi Morake Altus Theart saam sy vrou, die aktrise Zetske van Pletzen. Foto: Papi Morake[/caption]

In die rolprent kom ’n groep boerekrygers in ’n konsentrasiekamp in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewe te staan.

Heel toevallig is rugby ook die loopbaan wat van dié akteurs sou kies as hulle nie in die vermaakbedryf was nie.

’n Besering het Altus op universiteit sy rugby gekos en die dramagogga het gebyt.

“Ek was op skool eerstepan-rugbykaptein en ná skool was ek en Jean de Villiers (die voormalige Springbok-kaptein) die senterpaar vir Maties se rugbyspan,” het hy die naweek by die pre-première en langtafel-ete van die rolprent Modder en Bloed gesê.

“So dis lekker dat ek nou ’n loopbaan van kunsmatige rugby kan maak,” vertel Altus, wat ook in die Bakgat!-flieks en in die reeks Getroud met Rugby sy dae op die rugbyveld deurgebring het.

Hy is ook deel van die Getroud met Rugby-rolverdeling wat van 4 April as ’n sepie eerder as ’n dramareeks op kykNET uitgesaai gaan word.

Maar watter loopbaan sou hy najaag as hy nie ’n akteur was nie? “Ek sou met diere wou werk of ’n veldfietsryer wou wees.” Sy vrou, die aktrise Zetske van Pletzen, hou ook van kwadfiets ry. “Sy wil ook nou begin motorfiets ry.”

Hulle is al vier jaar getroud. “Ek moes iewers in my lewe iets reg gedoen het om haar te kry,” sê Altus oor die belangrikste vrou in sy lewe.

[caption id="attachment_119965" align="alignnone" width="600"]Marno van der Merwe saam Loriska Bubb. Foto: Papi Morake Marno van der Merwe saam Loriska Bubb. Foto: Papi Morake[/caption]

Toe Marno op skool was, het hy gedink rugby sal sy loopbaan word. “Ek het tot op 23 klubrugby vir die Valke in Pretoria gespeel. Ek is ’n groot Blou Bul-ondersteuner en my bedtydstories was verhale oor die Springbok-legende Frik du Preez.”

Sy sangtalent eindig ook nie wanneer die kykNET-jeugdrama Sterlopers Woensdagaande verby is nie. Marno het in die regte lewe gehore aan die brand gesing reeds voor hy toneelgespeel het. Hy beoog om einde vanjaar sy eerste album uit te reik.

Hy is in ’n verhouding met Loriska Bubb, wat saam met hom in Sterlopers te sien is.

[caption id="attachment_119966" align="alignnone" width="600"]Die mooie David Louw wys bietjie lyf. Foto: Papi Morake Die mooie David Louw wys bietjie lyf. Foto: Papi Morake[/caption]

David sê hy het soos meeste jong seuns daarvan gedroom om ’n Springbok-rugbyspeler te word. Hy het op skool vir die Griffons se Cravenweek-span uitgedraf.

Gelukkig kan hy steeds sy rugbypassie deur sy toneelspel uitleef. Behalwe Modder en Bloed is hy ook een van die sexy mans wat in die sepie Getroud met Rugby gaan speel.

“Ons skiet tonele op die rugbyveld en moet nes regte rugbyspelers gedurig duiksakke plattrek.” Dié boerseun van Vrede in die Oos-Vrystaat vertel hy is op sy gelukkigste in die buitelug.

“Ek hou van perdry, vlieghengel en enigiets wat my adrenalien opjaag. Gee vir my ’n tent en ek is op my gelukkigste.” Gustav vertel sedert hy ’n klein seuntjie was wou hy elke week iets anders word.

“Die enigste ding waarby ek 100 persent kon bly was om ’n akteur te wees.” Hoewel hy op skool “seker vir die tiende rugbyspan” uitgedraf het, verseker hy dat hy die grootste rugbyondersteuner is.

“Ek kan op ’n Saterdag maklik drie rugbywedstryde ná mekaar kyk.”

Die Blou Bul-rugbyspeler Lappies Labuschagné was ook by Modder en Bloed se langtafelete by die Askari-wildreservaat en spa.

“Ek het amper ’n hartaanval gekry toe ek hoor hy is hier,” sê Gustav.

Albert sê daar is honderde goed wat hy graag sou wil doen. “Ek is geprikkel deur argitektuur. Ek het onderwys studeer en is baie geïnteresseerd in biokinetika.”

Maar as akteur moes hy ’n goeie voorbeeld stel, want sy seun, Viljé, is ook een van ons gewilde akteurs.

“Dis vir my ’n riem onder die hart om te sien watter gehaltewerk hy ten toon stel,” sê dié trotse pa oor sy seun.

– Marisa Fockema

Gaan loer hier na die lokprent.

Nóg oor Modder en Bloed:

Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Patrick Connolly as Finn Kelly

Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Edwin van der Walt as Marius Prinsloo

EKSKLUSIEF: Modder en Bloed se amptelike lokprent is hier!

Van mannegroep tot regisseurstoel: Sean Else gesels oor sy nuwe rolprent Modder en Bloed

Vars aanslag op die Anglo-Boereoorlog binnekort in nuwe Afrikaanse rolprent te sien

Ontmoet Modder en Bloed se karakters: Stian Bam as Willem Morkel