Die bekendmaking in die “Staatskoerant” dat nuwe Suid-Afrikaanse nommerplate in 2017 in werking gestel word, het tot groot ontevredenheid gelei.

Ishmael Mnisi, woordvoerder van die departement van vervoer, het egter aan die Cape Times gesê die dokument is vals.

“Die dokument wat aanlyn versprei word, is nie eg nie en die departement het ook nie ’n beslissing gemaak soos daarin weerspieël word nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg die departement sal die bron van die poets naspeur.

“Ons veroordeel die vals dokument met die afkeur wat dit verdien en hoop alle Suid-Afrikaners ignoreer dit terwyl ons die bron daarvan ondersoek,” het hy gesê.

Wheels24 het gister berig ’n heel nuwe stelsel sal volgende jaar saam met die nuwe plate ingestel word.

Die agentskap haal ’n bron in die departement van vervoer aan wat verduidelik die nuwe plate sal elke vyf jaar hernu moet word.

Maar Alta Swanepoel, redakteur van LexisNexis Road Traffic Legislation, het aan die Times gesê die verwarring het ontstaan ná ’n vragmotorvervoerkonferensie waar sy verlede week ’n praatjie gelewer het.

“Dit was tydens my voorlegging van sowat 60 skyfies waarin ek gepraat het oor twee staatskoerante wat in 2014 en 2015 gepubliseer is, dat ek gesê het eienaars van ondernemings moenie vergeet van die voorgestelde nommerplaatwysigings wat vir openbare kommentaar beskikbaar is nie.

“Uit die konferensie het iemand op een of ander manier tot die gevolgtrekking gekom die nommerplate kom volgende jaar in werking.

“Daar is beslis nog geen datum vir wanneer die nuwe nommerplate ingestel sal word nie.”

Bronne: IOL, TimesLive, Wheels24, Arrive Alive