Die rand het die dag op R13,81 begin en tydens die aankondiging deur adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), teen R14,29 verhandel voor hy effe herstel het. Die geldeenheid het egter ná Abrahams bevestig het Gordhan word aangekla weer tot by R14,27 verswak.

Die rand het ook teen die euro vasgeval. Nadat die geldeenheid die dag teen R15,38 begin het, het dit gou tot R15,88 verswak.

Goolam Ballim, hoofekonoom van Standard Bank, sê buitelandse beleggers is beslis die skrik op die lyf gejaag deur die NDOV se besluit.

“Die minister en sakelui was net verlede week – verlede week! – in New York en Washington om beleggers gerus te stel. Ek was saam en kan daarvan getuig dat hulle ná Gordhan se harde werk kalm was, sigbaar kalm. Vandag se gebeure sal egter verseker dat hulle diep bekommerd is. Dis nie goed vir ons en die ekonomie nie.”

Peter Attard Montalto, ontleder by die Londense firma Nomura Securities, sê beleggers het politieke risiko in Suid-Afrika onderskat.

Volgens hom is vertroue in Suid-Afrika na die gemors in Desember – toe pres. Jacob Zuma die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, afgedank het – tot ’n mate herstel.

Hy het aan Stephen Grootes op 702 Talk Radio gesê die gevolge van die nuutste gebeure gaan gevoel word omdat beleggers huiwerig sal wees om geld in Suid-Afrika te belê, geldmarkte gaan ly en gewone mense gaan duurder vir verbruiksgoedere betaal.

“Dit gaan op die ou einde oor toegang tot nasionale tesourie en mense wat toegang daartoe wil kry.”

Graderingsagentskappe gaan Suid-Afrika se kredietgradering weer in November en Desember aanpas. Montalto sê dié agentskappe – Moody’s, Standard & Poor’s en Fitch – kan besluit om dit vroeër te doen. Hy verwag in elk geval ’n afgradering.