Ons vra ’n paar bekendes wat hulle dié vakansie gaan lees:

Margit Meyer-Rodenbeck, oftewel Dowwe Dolla, is ’n gedugte leser maar kry deur die jaar bitter min tyd daarvoor. Daarom is sy dankbaar vir dié tyd van die jaar wanneer sy kan asem skep en lees dat dit klap. “Ek het pas Onse Vaders van Karen Brynard gelees en dan gaan ek ook NYPD Red van James Patterson lees en is besig met Deon Opperman se Donkerland. Dan is daar ook nog die ekonoom Dawie Roodt se boek Tax, Lies and Red Tape. Ek laat waai behoorlik met lees in die vakansie; dis goeie ontspanning.”

Die sangeres Carike Keuzenkamp en haar man, Olaus van Zyl, is groot boekwurms. “Ek het ’n stuk of 10 tydskrifte hier langs my bed wat ek nog nie gelees het nie. En ek weet Deon Meyer se Kobra is beslis een van my Kersgeskenke. Ek kan nie wag om dit te lees nie!”

Surina Erasmus, oftewel Die Flooze van Witbank, lees eintlik net die Bybel, “maar noudat ek swanger is, lees ek ook What To Expect When You’re Expecting”.

Die ekonoom en Dagbreek-aanbieder Dawie Roodt het onder sy vrou, Marina, se druk geswig en ’n klassieke Russiese boek, The Heart of a Dog deur Mikhail Bulgakov begin lees. “Tot dusver is dit baie interessant. Dis ’n politieke boek wat gaan oor die verval van die kommunistiese stelsel.”

Die akteur Louw Venter bieg dat hy eintlik die nieamptelike lid is van sy vrou Jeanine, se boekklub. Hy lees al die boeke wat sy koop en gaan nou binnekort begin met The Cuckoo’s Calling deur Robert Galbraith. “Maar dit is eintlik geskryf deur J.K. Rowling. Dis haar skuilnaam vir haar volwasse boeke en volgens my vrou is die boek nogal goed; daarom sien ek daarna uit om dit te lees en te sien wat sy aangevang het.”

- Suzanne Venter