Hy moes bontstaan voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste om te verduidelik waarom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bedrogklagte teen die minister van finansies, Pravin Gordhan, gebring het terwyl daar glo nie werklik ’n saak teen hom was nie.

Abrahams het vroeër hierdie week die wenkbroue laat lig toe hy summier die aanklagte teen Gordhan sowel as dié teen Oupa Magashula en Ivan Pillay terugtrek.

Die aanklagte het glo gespruit uit dié drie se betrokkenheid by ’n beweerde onwettige spesiale eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

"Waarom voel jy dat jy niemand ’n verskoning hiervoor skuld nie?" wou die DA-lid adv. Glynnis Breytenbach by hom weet. Sy wou ook weet of hy werklik sy verstand gebruik het toe hy besluit het om Pravin te vervolg.

"Die vervolgings is nie deur enigiemand gekaap nie," het Abrahams vroeër in die vergadering gesê.

Hy het ook ontken dat die besluit syne was en gesê hy moes bloot die nuus bekendmaak en volgehou dat hy nie kort voor die aankondiging dat Gordhan vervolg gaan word, met president Zuma beraadslaag het nie.

"Die besluit is deeglik oorweeg voor dit geneem is," het hy bygevoeg.