Dit wat die twee mans gedoen het toe hulle Victor Mlotshwa in ’n doodskis dwing, is uit suiwer rassisme aangevuur.

So het landdros Jongilizwe Dumehleli in die landdroshof op Middelburg gesê kort voor hy geweier het om Willem Oosthuizen (28) en Theo Jackson (29) op borgtog vry te laat.

Oosthuizen en Jackson het Victor na bewering op 17 Augustus vanjaar in ’n doodskis gedwing en gedreig om petrol oor hom uit te gooi en hom aan die brand te steek. Hulle is in November in hegtenis geneem nadat ’n video oor die voorval die ronde begin doen het.

Die twee voormanne op verskillende plase word ook daarvan aangekla dat hulle Denton Sithole aangerand het. Hulle is ook daarvan beskuldig dat hulle die k-woord tydens die beweerde voorvalle gebruik het.

Oosthuizen, ’n pa van ’n 18 maande- en ’n ses weke oue baba, en Jackson, wat drie kinders onder die ouderdom van sewe het, sal in die tronk in eMalahleni bly tot hulle weer op 25 Januarie op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, menseroof, aanranding, regsverydeling en intimidasie verskyn.

Nadat Dumehleli borgtog vir die twee mans geweier het, het mense in die hofgalery hande geklap van blydskap. Jackson het net sy hand oor sy gesig gevee en Oosthuizen het afgekyk grond toe. Hulle het emosieloos voor hulle gekyk terwyl Dumehleli vir hulle gesê het hulle is welkom om in die hooggeregshof teen sy besluit te appelleer.

Tydens sy uitspraak het Dumehleli gesê hoewel Jackson en Oosthuizen sê dit was nie ’n rassistiese voorval nie, weerspreek hul dade hul woorde.

Een van Dumehleli se vrae was hoekom die twee mans ’n doodskis gehad het. Hy het selfs versoek dat die polisie die kis vir DNS ondersoek om te kyk of ander slagoffers nie ook beleef het wat Victor moes deurgaan nie.

Nog ’n vraag wat hy gehad het, was: “Wie het julle geleer om die k-woord te gebruik? Julle was onderskeidelik ses en sewe jaar oud in 1994.”

Hoewel Dumehleli gesê het die twee mans se dade is deur rassisme aangevuur, wil hy nie die fout maak om te veralgemeen nie.

“Ek wil nie die indruk wek dat alle wit boere rassiste is nie, want dit sal nie regverdig wees nie,” het Dumehleli gesê.

“Ek weier ook om die indruk te wek dat alle wit mense rassiste is. Daar is wit mense wat menslik is en wat ander mense se waardigheid kan respekteer.

“Nie net wit mense is rassiste nie. Swart mense kan ook rassiste wees.

“Rassisme is ’n virus waarin die hele wêreld vasgevang is.”

Dumehleli sê Jackson en Oosthuizen se verduideliking dat hulle Victor ’n les wou leer, gee aanstoot, want geen mens kan aan sulke barbaarsheid onderwerp word nie.

Volgens Dumehleli bestaan ’n moontlikheid van bloedvergieting as die mans op borgtog vrygelaat word omdat die gemeenskap woedend is.