Die Switserse kinderverhaalskrywer Johanna Spyri het reeds in 1881 lewe gegee aan die bekende karaktertjie Heidi, en dié meisietjie van die Alpe betower mense nou al geslagte lank met haar sprankelende persoonlikheid.

Nie net vertel talle TV-reekse al dekades lank haar storie nie; verskeie Heidi-flieks is sedert 1937 al op die silwerdoek vertoon.

As jy met Heidi op jou TV-skerm groot geword het, weet jy wat om dié naweek te doen: Trek jou fliekklere aan, laai jou kinders of kleinkinders in die motor en gaan maak ’n draai by jou naaste fliekteater!

Lees ook: Tien dinge wat jy waarskynlik nie van Heidi en Peter geweet het nie!

Ja, die nuutste Heidi-rolprent, wat verlede jaar in Switserland verfilm is en waarvan die Afrikaanse klankbaan in Maart opgeneem is, is hier. Louis van Niekerk, wat in die destydse oorgeklankte reeks die stem verskaf het vir Heidi se oupa, is terug in dieselfde rol.

Annelisa Weiland, wat toe as Heidi agter die mikrofoon ingeskuif het, is nou Peter se oumagrootjie, terwyl Heidi met Jenna Dunster se stem praat. Haar vriendin Klara, wat aan ’n rolstoel gekluister is, word vertolk deur Charlenè Brouwer.

Charlenè, wat verlede jaar in die titelrol van die fliek Dis Ek, Anna te sien was, vertel dit was ’n baie nostalgiese ervaring om aan Heidi te werk.

Sy het immers met dié karakters op die TV-skerm grootgeword. Toe was dit veral die pragtige Switserse berge wat haar verbeelding aangegryp het, want daar waar sy in Sannieshof (Noordwes) se wêreld grootgeword het, is nie juis berge nie.

“En natuurlik wanneer Heidi en haar oupa so lekker kaas geëet het. Dis waar ek my liefde vir kaas gekry het.”

Lees ook: Gaan die nuwe Tomb Raider-fliek dalk in Suid-Afrika verfilm word?

Stemwerk stel baie uitdagings aan ’n kunstenaar; jy kan net jou stem gebruik om die karakter te vestig.

Charlenè vertel hulle het steeds baie pret in die oorklankingsateljee gehad. “Dit was vreeslik snaaks om soos Klara te slurp wanneer sy sop eet.

Dan moes ek ook baie lag, want sy is mos ’n vrolike en uitbundige karaktertjie. O ja, en om al Klara se tantrums te gooi!”

Sy het nie werklik haar stem verander nie, maar net in ’n effense hoër stemtoon gepraat, vertel Charlenè.

Sy kon egter nie haar kinderskoene te lank aan hou nie, want later dié maand begin sy met haar persoonlike voorbereidings vir haar rol in die fliek Kamphoer, wat volgende jaar deur Palama Produksies verfilm word.

Hierin speel sy ’n meisie wat tydens die Anglo Boere-oorlog verkrag en vir dood agtergelaat word.

Die aktrise moes onder meer leer Sotho en Nederlands praat. Maar eendag, droom sy, eendag gaan sy nog haar eie kinderfliek maak.

Kyk hier na die lokfilm: