Dis was ’n besige en suksesvolle jaar vir die goue fliekpaartjie van die Afrikaanse rolprentbedryf.

Maar nou is die aktrise Donnalee Roberts en die akteur Ivan Botha albei vir ’n blaaskans in Thailand. Ivan het ’n foto van die pragland uit ’n vliegtuig geneem en geskryf hy beleef ’n inskrywing op sy wenslysie deur die gewilde vakansiebestemming te besoek.

The land of the Thai. Bucket list moment.

A photo posted by Ivan Botha (@ivanbotha17) on

Donnalee het self haar opwinding oor die land gedeel toe sy op Instagram ’n foto plaas waar sy saam met ’n olifant swem.

Thailand ??????

A photo posted by Donnalee Roberts (@donnalee_r) on

Die twee sterre, wat vennote is as akteurs, skrywers en vervaardigers, het vanjaar vir hul toneelspel in Vir Altyd die Tempo-toekenning vir die rolprentakteur en -aktrise van die jaar gewen.

Vir Altyd het vanjaar ook loketrekords laat spat toe dit die grootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek behaal.

Huisgenoot se eeufeesfliek Vir die Voëls draai tans landwyd en het naas Vir Altyd vanjaar die naasgrootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek behaal.

Die romantiese drama, wat in samewerking met kykNET en The Film Factory vervaardig is, het verlede naweek meer as R1 miljoen by die loket laat inrol en is deur meer as 20 000 mense gekyk.

Ivan en Donnalee het twee jaar gelede ook sukses behaal met die uitreiking van hul eerste gesamentlike projek, die fliek Pad na Jou Hart, wat tydens sy openingsnaweek R3,1 miljoen verdien het.

Die twee akteurs wat die eerste keer saam op die kassie gesien is as Pieter en Annelie in 7de Laan, het vanjaar ook vir die eerste keer saam op die verhoog verskyn in die produksie Beurtkrag. Die stuk is gegrond op ’n kortfliek geskryf deur die akteur en draaiboekskrywer Stiaan Smith. Hy het dit vir die verhoog aangepas.

Ivan en Donnalee gaan volgende jaar steeds met die produksie toer.

Beurtkrag vertel die storie van Jasper en Fransie wat vir die eerste keer saam in ’n woonstel intrek. Maar ’n kragonderbreking dwing die twee weg van tegnologie en nader aan mekaar.