’n Bloemfonteinse ma en gereelde blogger vir Mammas24/7 het binne enkele dae so te sê beroemd geraak nadat ’n video op Facebook gedeel is waarin sy oor haar lyf praat.

Sy het die video gemaak op die dag dat sy ’n fotoboodskap op Facebook gedeel het – ’n silhoeët van ’n vroueliggaam met ’n aanhaling van Amethyst Joy: “How can you ever say anything negative about your body after you have felt the dancing of life from inside your womb?”

mamma-prentjie

In die video sê Cathy: “Ek voel nogal emosioneel vandag,” en verwys dan na die Facebook-plasing. “Hoe kan jy sleg voel oor jou eie lyf terwyl jy as mamma lewe gevoel het in daai lyf? Die boodskap het my diep getref en my laat besef hoe durf ek as mamma sleg voel oor my lyf?”

 

Cathy het drie dogters. Oor haar boodskap sê Cathy vroue is geneig om hulself te kritiseer, en verloor die mees ongelooflike feit uit die oog – dat jy die lewe geskenk het.

“Soveel mense wil kinders hê en kan nie,” sê sy.

Cathy blog reeds ’n rukkie vir Mammas24/7 oor “impromptu-goed wat ek met mense wil deel”.

Sy sê sy is tevrede met wie sy is en hoewel ’n mens “seker altyd hang-ups sal hê”, is sy op ’n punt waar haar eie haar nie meer pla nie.

Charné Cronjé, wat die Mammas24/7-Facebookblad bestuur, sê nadat sy die video namens Cathy gedeel het, het dit soos ’n veldbrand versprei.

“Sy is ’n mamma wat met ander mense se hart praat. Dis die egtheid daarvan,” sê sy.