'n Vragmotorbestuurder wat op sy selfoon doenig was terwyl hy teen byna 81 km per uur op 'n snelweg gejaag het, het tot die grusame dood van 'n ma en haar drie kinders naby Newbury in Berkshire, Engeland, gelei.

Tomasz Kroker was agter die stuur van sy vragmotor toe hy op soek was na 'n geskikte liedjie op sy selfoon. Kwalik 'n uur vantevore het hy 'n verklaring by sy werkgewer onderteken dat hy nooit sy selfoon sal gebruik terwyl hy agter die stuur sou wees nie.

Daardie verklaring het duidelik net mooi niks beteken nie.

Op dieselfde roete as hy was daar 'n familie op pad terug van 'n kampeervakansie in Devon. In die motor reg voor die vragmotor was Mark Goldsmith en sy 13-jarige seun, Jake. In die motor voor hulle was Tracy Houghton, Mark se lewensmaat, haar seuns Ethan (12), Josh (11) en haar stiefdogter Aimee (11).

Toe tref die vragmotor Mark se motor wat op sy beurt teen Tracy se Corsa bots. Die impak van die botsing het haar motor onder 'n ander vragmotor voor haar inforseer.

Tracy en al drie die kinders is op slag dood. Erger nog, Mark en Jake het elke grusame oomblik gesien. Die voorval is ook op video vasgelê.

Tydens vonnisoplegging Maandag in die hof in Reading, het regter Maura McGowan gesê Kroker se aandag was so power hy kon net sowel met toe oë bestuur het.

Intussen word berig dat die 11-jarige Jake "nie eintlik meer praat nie. Hy't nie juis iets om te sê nie," het sy ma, Kate, gesê. Daar is ook nie meer sprake van 'n goeie nagrus nie. Nagmerries en gebroke slaap is aan die orde van die dag vir die getraumatiseerde seun.

Maak seker jy kyk hierdie video voordat jy weer agter die stuur inskuif - en net gou vinnig na daardie skerm loer.

Bronne: theguardian.com, metro.co.uk, bbc.com