’n Singapore Airlines-vlug met 222 passasiers en 19 bemanning aan boord, het byna rampspoedig afgeloop tydens ’n noodlanding Maandagoggend in Singapoer. Die vlug, aanvanklik bestem vir Milaan, moes noodgedwonge terugdraai na Singapoer se Changi-lughawe vanweë ’n brandstoflekkasie sowat twee uur nadat die vliegtuig opgestyg het. Volgens van die passasiers was daar glo ’n sterk brandstofreuk te bespeur. Die vlieënier het die passasiers ingelig dat die vliegtuigenjin olie lek aan die regterkant en dat dit beter sou wees om terug te draai.

Een van die passasiers, Lee Bee Yee, het aan Channelnews Asia gesê hulle het geslaap en was nie veel daardeur gepla nie.
Tydens die suksesvolle noodlanding het die passasiers die vlieënier luid toegejuig en hande geklap.
Die vreugde was egter van korte duur toe was ’n vonk spat en die vliegtuig, met al die passasiers aan boord, in vlamme uitbars.
Die passasiers was gereed om op vlug te slaan, maar hulle is versoek om kalm en in hul sitplekke te bly.
Lee sê daar was geen gille nie, en almal het hul sitplek ingeneem. Binne vyf minute was die brandweer op die toneel en binne tien minute is die vlamme geblus.
Singapore Air het aangedui dat die skade aan die vliegtuig deeglik ondersoek sal word.

Die spesifieke vliegtuig waarmee Vlug SQ368 onderneem is, ’n Boeing 777, word reeds vir nege jaar en sewe maande deur die redery gebruik.

Die Boeing 777 word as een van die veiligste vliegtuie ter wêreld beskou. Slegs vyf het onherstelbare skade opgedoen sedert die eerste in dié reeks in 1993 gebou is.

Bronne: bloomberg.com, channelnewsasia.com, tenplay.com.au