Dis die eerste tropiese storm wat die maksimum kategorie van 10 in Hongkong haal sedert Tifoon Vincente in 2012.

Windsnelhede van meer as 150 km/h is naby Hato se kern aangeteken, en Hongkongse weerkundiges het voorspel seevlakke kon plek-plek met tot 5 m styg. Kenners van die internasionale weerdiens AccuWeather het reën van tot 200 mm verwag voor die storm sou begin bedaar.

Groot deinings en enorme branders het van die stadsgebied se gewildste strande verswelg en in laagliggende areas oorstromings veroorsaak. Reuse golwe het byvoorbeeld strandfrontgeboue in woongebiede soos Heng Fa Chuen getref, talle voertuie was halfpad onder water en in sommige strate het mense glad kano’s as tydelike vervoermiddel ingespan. Die regering het ook wyd vloedwaarskuwings uitgereik en amper 30 tydelike toevlugte dwarsoor die stadsgebied ingerig.

“Ek het nog nooit een soos hierdie gesien nie . . . dis mal,” het Garrett Quigley, wat al dekades wes van die stadskern woon, opgemerk. Clement Cheng, ’n beleggingsmakelaar en een van bitter min werkers wat dit wel Woensdagoggend gewaag het om ’n paar dinge op kantoor te gaan doen, het laat hoor: “Ek kon vanoggend my woonstel effens voel beweeg!”

Bronne: Bloomberg, smh.com.au, accuweather.com