Volgens CBS News is die oppasser, Thelma Manalastas, in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal van ’n versteekte kamera gewys het hoe sy die tweejarige Landon Ko met ’n opgerolde tydskrif slaan.

Dyanna Ko, Landon se ma, het aan CBS Los Angeles gesê sy het ’n app met ’n kamera verbind om so te kyk hoe dit met die seun gaan. Dis toe dat dié skrikwekkende voorval afgespeel het.

Landon ly aan Rubinstein-Taybi-sindroom, ’n skaars genetiese siekte wat hom baie kwesbaar maak. Hy neem deur ’n voedingsbuis kos in en moet 24 uur per dag versorg word.       

Dyanna en haar man, Chris, was 20 minute weg om hul ander seun se bofbalwedstryd by te woon.

“Ek het gedink ek gaan flou word toe ek dit sien,” het sy aan CBS gesê.

Hulle het die polisie onmiddellik gebel en huis toe gejaag. Thelma is op die toneel in hegtenis geneem. 

Sy was in diens van Maxim Healthcare Services (MHS), ’n maatskappy wat tuissorg aanbied. Sy is sedertien in die pad gesteek.

Dyanna en Chris dagvaar Thelma en MHS nou. 

Bronne: CBS News, The New York Post