Jy’s aan die gang en met jou maandelikse inkopies doenig. En jy’s gerus dat jy jou motor se deur gesluit het en jou waardevolle artikels veilig is.

Maar terwyl jy besig is om uit jou motor te klim, het ’n slinkse booswig wat hom as ’n verbyganger voorgedoen het, jou motor se deur aan die anderkant op ’n skrefie oopgemaak en is hierdie einste kalant nou besig om sy sakke met jou besittings vol te stop.

Nadat nog so ’n voorval verlede maand op kringtelevisie by die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria vasgelê is en met feestyd-inkopies om die draai, maan versekeringsmaatskappye motoriste nou om waaksaam te wees wanneer hulle hul voertuie in openbare ruimtes parkeer.

Volgens Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, maak misdadigers ’n punt daarvan om altyd ’n tree voor jou te wees. “Met hierdie strategie verkry hulle nie net maklike toegang tot skootrekenaars, sonbrille, GPS-toestelle, juweliersware, inkopiesakkies vol buit en meer nie, maar siende dat ’n voertuig se alarm meestal nie sal aktiveer wanneer al die deure nie behoorlik toe is nie, kan hulle dit boonop ongesteur doen.”

Hier is wenke om te voorkom dat jy ’n slagoffer word:

  • Maak altyd dubbel seker jou voertuig se deure, sowel as die bagasiebak, is behoorlik toe voor jy dit sluit. Indien die voertuig nie met ’n sentrale sluitstelsel toegerus is nie, maak seker elkeen is individueel gesluit.
  • Maak seker die alarmstelsel is geaktiveer voor jy jou voertuig verlaat. Die meeste alarms sal óf ’n ander geluid maak as gewoonlik óf geen geluid nie óf die ligte sal op ’n ander manier flikker wanneer iets dit weerhou om te aktiveer.
  • Vermy aandagafleiers – probeer om nie so besig te wees om te gesels of jou foon na te gaan dat jy nie daarop fokus om jou motor te sluit nie.
  • Wees op die uitkyk vir enige verdagte individue wat jou fyn dophou wanneer jy parkeer en/of naby jou voertuig beweeg.

“Dit is altyd slim om seker te maak dat jou voertuig omvattend verseker is en dat draagbare goedere, soos ’n skootrekenaar wat tydelik in jou voertuig gelaat word, voldoende gedek is,” sê Elmarie.