“Gee asseblief aandag en luister na ons, want ons oorlewing hang af van jul samewerking,” het die kaptein van die vliegtuig, wat onderweg wes van die Australiese stad Perth na Kuala Lumpur in Maleisië, aan die meer as 300 passasiers gesê.

“Ek hoop julle het almal ’n gebedjie gesê. Ek sê ook een en kom ons hoop ons kan almal veilig by die huis kom,” het ’n passasier, Sophie Nicholas, die vreesaanjaende vlug onthou, berig die Daily Mail.

“Ek het baie gehuil en ander mense ook. Mense het hul ma’s probeer bel en so aan, maar ons kon nie eintlik enigiets anders doen as om te wag en die kaptein te vertrou nie,” het sy ook aan ABC News gesê.

Die vliegtuig se enjin het glo sowat twee ure nadat die vliegtuig opgestyg het moeilikheid gegee. Passasiers het ’n harde klapgeluid gehoor, waarna die vliegtuig onophoudelik begin ruk het. Die tuig moes inderhaas omgedraai word en genadiglik is almal veilig terug na Perth besorg.

Een passasier het op Twitter ’n video gedeel wat wys hoe die vliegtuig byna nes ’n wasmasjien ruk.

Die lugdiens ondersoek glo die voorval en lewer die nodige bystand aan passasiers.

Bronne: Daily Mail , ABC News, Instagram, Twitter