Sy is nou uit op borgtog van nagenoeg R333 000 en word van onder meer van aanranding aangekla. Nog klagtes mag bygevoeg word.

Volgens Michael Chitwood, Upper Darby se polisie-superintendent, was daar oënskynlik geen rede waarom Sarah die dogtertjie by die trappe sou afstamp nie.

“Sy’s net ’n klein dingetjie, en sy (Sarah) het haar soos ’n lappop gestamp,” het hy gesê.

“Sy het geen berou of verduideliking wat gebeur het of waarom sy dit gedoen het nie.”

In ’n onderhoud met die plaaslike TV-nuuskanaal NBC10 Philadelphia het Shawayne Tavares van die betrokke skool vertel hoe sy die insident op kringtelevisie gade geslaan het.

In die video lyk dit asof Sarah effe sukkel met die dogtertjie. Dan kan gesien word hoe sy haar in haar rug stamp sodat sy by die trappe aftuimel. Daarna kyk Sarah op, oënskynlik reg in die lens van die kringtelevisie-kamera. Sy buk, neem die dogtertjie se hand en loop die res van die trappe af met haar.

Shawayne het Sarah konfronteer oor wat werklik sou gebeur het. Sarah sou aan haar gesê het dat die dogtertjie oor haar eie skoen gestruikel het.

“Ek was so ontsteld. Ek het trane in my oë gehad . . . jy sit nie jou hande aan ’n kind nie.”

Ironies genoeg is die kringtelevisie-stelsel kwalik ’n halfuur voor die insident by die skool installeer.

Die dogtertjie het ’n geringe skraap aan haar knie opgedoen en was die volgende dag weer terug by die skool alhoewel Michael haar as “doodbang” beskryf het ná die voorval. Sy was glo ook skrikkerig om weer die trappe aan te durf.

Sarah is onmiddellik afgedank. Sy het luidens berigte in Junie 2016 by die skool begin werk. Sy beskik na bewering oor 25 jaar se ervaring in kindersorg. Van die ouers is geskok ná die voorval.

“My klein outjie, sy sou hom altyd met ’n drukkie groet. Ek het altyd gedink sy’s een van die beste,” het Ronnie Siekor gesê.