"Beast mode!"

Só beskryf kykers 'n gewilde video van 'n tjokker-rugbyspeler (9) wat deur die een jong speler na die ander breek om 'n besonderse drie te druk. Op Facebook alleen is die video al meer as vier miljoen keer gekyk.

Die nege-jarige Meaalofa Te’o van Canberra in Australië is op kamera vasgevang tydens 'n onlangse ligawedstryd, maar nie almal is ewe beïndruk met die jong speler se vertoning nie. Partygene voel Meaalofa se liggaamsbou was heelwat groter as sy medespelers en dat hulle daarom nie 'n kans teen hom gestaan het nie.

"Daar is niks indrukwekkend aan hierdie video nie," het een persoon op Facebook geskryf. "Die kinders leer niks anders as om by die groot spelers te probeer verbykom nie."

Nog iemand het opgemerk dat hierdie soort video's bewys dat daar gewigsafdelings in die sport moet wees en dat kinders soos Meaalofa 'n onregverdige voordeel bo kleiner spelers het.

Sy ma het in 'n onderhoud met BuzzFeed News vir hom geskerm en gesê hy het al in ligas vir ouer kinders gespeel en daar net so goed gevaar.

"Hy is nie bewus van die groot oproer nie. Al wat hy weet, is dat hy homself geniet. Die doel van die spel is om drieë te druk en hy kry dit duidelik reg."

Ander het weer aanlyn opgemerk dat Meaalofa se goeie spel nie net danksy sy grootte is nie, maar ook omdat hy vinnig is, flink verby spelers beweeg, hande verwissel en homself goed balanseer.

Bronne: Twitter, YouTube, BuzzFeed News, Facebook.